Verlede maand
Besige by se boek sien die lig
WAS SOMMER BESIG: Judith Vollmer spog met die boek wat sy in die lockdown geskryf het.  ~ Foto Verskaf

DIE boek Avonture van Hier tot in die Noord-Kaap is onlangs by die Krystal Beach-hotel in Gordonsbaai bekend gestel en die akteur Sherman Pharo was die hoofspreker.

Volgens die outeur, Judith Vollmer, handel die boek oor twee kinders van Namakwaland wat vir die eerste keer op ’n vliegtuig klim om na Durban te reis en hul ondervindings.

Vollmer sê: “Ek is in die Strand gebore en my skoolloopbaan was by die Laerskool Dr. GJ Joubert in die Strand. Ek het aan die Hoërskool Gordon in Somerset-Wes gematrikuleer.

“Daarna was ek by Boland Kollege, waar ek ’n kursus in vroeë kinderontwikkeling gedoen het.

“Ek hou daarvan om vir kinders stories te vertel en put genot daaruit as ek sien hoe hulle dit geniet as hulle aan my lippe hang.

“Hoewel ek hier gebore is, dink ek my voete is ook in Springbok geanker omdat my ma se hele familie daar gebore is. Ons het nog baie sterk bande met die gebied.”

Vollmer het al heelwat gedigte geskryf, maar die boek is ’n produk van Covid-19. Gedurende die inperkingstyd het sy niks gehad om te doen nie en toe neem sy die pen op en begin skryf.

Sy het haar geskrifte aan die haarkapper Prudence November gegee om te lees.

Dié het dit vir die skrywer Anna Schonfrucht gegee, wat dit aan ’n uitgewer voorgelê het en dis gepubliseer.

Bestel

Die boek beslaan 100 bladsye en bevat 17 stories. Dit kos R250.

Mense wat belangstel om dit te koop, kan dit bestel by groep7-selfpublish-books. co.za/product/avonture-van-hier-tot-in-noord-kaap-judith-vollmer/ of bel Vollmer by 060 952 7395.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters