11 dae gelede
Bejaardes kry bederfsessie
BEDERF: Die inwoners van die tehuis is behoorlik gespoil.  ~ Foto Verskaf

BEJAARDE inwoners van die Snapdragon-tehuis in Athlone is onlangs te lekker verras.

Die 30 bejaardes is verlede Saterdag deur lede van die Beauty Behind Bars en BGK Youth Development met middagete, geskenke en skoonheidsbehandelings bederf.

Volgens Vanessa Cookson van BGK Youth Development het sy besluit om dié jaar iets spesiaals vir haar verjaardag te doen.

Sy het besluit om dit met bejaardes te deel, aangesien verlede jaar ’n baie moeilike jaar was weens die streng Covid-19-maatreëls.

Cookson sê: “Ek het besluit op die Snapdragon-ouetehuis in Athlone.

“Ek het sonder my ouma en oupa aan albei kante grootgeword en oumense lê baie na aan my hart.

“In die meeste gevalle is die oumense baie eensaam oor hul familie nie gereeld kom besoek nie. Ek het ook die Beauty Behind Bars-organisasie genader om die oumense te pamperlang met beauty treatments.”

Cookson het ook vir die 30 bejaardes elkeen ’n geskenkie gegee.

Menswaardigheid

Die inwoners het ook ’n maaltyd gekry, oefeninge gedoen en games gespeel.

Volgens Cleo Enuka, stigter van Beauty Behind Bars, is hulle ’n charity wat met vroue werk wat deur die gemeenskap verwerp is. Sy sê hulle wil hulle spesiaal laat voel en hul menswaardigheid herstel.

Enuka sê: “Ons maak gebruik van professionele skoonheidsterapeute wat skouer- en voet-massages aan bejaardes gee. Hulle is ook met ’n pedicure en manicure bederf om hulle spesiaal te laat voel.

“Die oumensies het dit baie waardeer, want dit is nie altyd dat hulle bederf word nie.

“”Jy kon aan die glans in hul oë en die glimlagte op hul gesigte sien dat hulle dit baie waardeer.

“Ons wil hê hulle moet weet hulle is spesiaal en weer vir hulle hoop gee en glimlagte op hul gesigte.”

Volgens Cookson beoog sy om dié gebaar in die toekoms met ander bejaardes te herhaal.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters