7 dae gelede
Badseep bolster stryd teen virus
deel uit: Lionel Adendorf is deel van die veldtog om seep aan inwoners te verskaf. FOTO’S VERSKAF  ~ 

BONNIEVALE. – Hope badseep is die afgelope week aan inwoners uitgedeel.

Die doel hiervan is dat die mense in staat kan wees om in hierdie moeilike tyd van Covid-19 gereeld hul hande te kan was. Om doeltreffend te wees, moet ’n mens elke keer jou hande omtrent 20 sekondes lank was.

Elke huisgesin het na raming twee koekies seep gekry.

Die inwoners het die seep met ope arms verwelkom en sê dit is nogal nie ’n cheap soort seep nie.

Afwas

Van die inwoners was nogal skepties oor die uitdeel van die seep.

Een inwoner, Andries Prins, het ernstig gesê: “Die mense het seker die seep vandag vir ons gegee sodat ons die corona deeglik van onse lywe moet afwas.”

Volgens Prins se tjommie Albertus Niemand sal hy en sy familie beslis baat vind by die seep.

“Ons sal elke dag sorg dat ons nie net ons lywe met die seep was nie. Die doel van die blokkies seep is mos om ons hande te was. Dit is wat die meneer wat dit vir my gegee het, aan my gesê het,” het Niemand gesê.

’n Antie wat te skaam is om haar naam te noem, het gesê sy is ook bly oor die seep wat sy gekry het.

“U sien, ek kan nie juis badseep bekostig nie. Ek en my man was ons sommer met die gewone blokkie blouseep.

“Dit werk vir alles en ons was selfs ons hare daarmee,” het die antie vertel.

Van die inwoners sê hulle hoop nou net nie dat van die mense van die seep gaan staan en verkoop nie.

Masker

Wyksraadslid JJ Januarie sê die doel van die uitdeel van die seep is om mense daaraan te herinner om hul hande gereeld te was. Volgens hom moet mense ook sorg dat hulle hul masker oor hul mond en neus dra.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters