13 dae gelede
Baan-boeties
Kookwater: Keanen Keffers is derde op Boland se ranglys vir junior gholfspelers.  ~ 

LUTZVILLE. – Twee broers, Angelo en Keanen Keffers, speel die gholflandskap aan die brand.

En nou gaan Angelo (15) ’n ambassadeur vir sy skool, die Hoërskool De Villiers Graaff, wees wanneer hy Australië toe gaan.

Jannie Swart, die hoof van hulle vorige skool, Ebenhaeser, vertel: “Dié leerders het geweldig baie potensiaal.

“Toe hulle vir die Bolandse o. 19-span gekies is, het ons hulle baadjies gekoop.

“Weens ons beperkte gholfhulpbronne het ons hulle verwys na die Hoërskool De Villiers Graaff, waar hulle albei beurse ontvang het.

“Daar het hulle lede van De Villiers Graaff se gholfakademie geword.

“Hulle is toe ingesluit by die Suid-Afrikaanse Gholfontwikkelingsprogram.”

Met Angelo en Keanen in die span het De Villiers Graaff die SA Hoërskole Gholfkampioenskap op die Koro Creek-gholfbaan buite Modimolle in Limpopo gewen.

’n Opgewonde Angelo sê: “Ek het hard gewerk en vyf Bolandse junior ope toernooie gewen. Ek het ook ’n hole-in-one­ op die Benoni-gholfbaan geslaan.

“Tans is ek nommer twee op die Boland se ranglys vir juniors.

“Ek bedank my onnies en die mense wat betrokke is by ons gholfloopbane.”

Gekies

Keanen, wat derde op Boland se ranglys vir juniors is, sê: “Ons is dankbaar vir die South African Gholf Development Board wat ons kostes dra.”

Angelo is gekies om van 1 tot 4 Oktober in die Jack Newton International Classic Gholftoernooi vir juniors in Hunter Valley, Australië, te gaan stokke swaai.

Hy vertrek Woensdag reeds en keer op 7 Oktober terug.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters