Verlede maand
Antie Magda gaan groot
goue hart: Magda Meyer wys die heerlike borde kos wat hulle vir die vroue berei het.  ~ 

DIT was nes die Bybelverhaal van die vyf brode en twee visse wat massas mense gevoed het.

Nadat Magda Meyer (57), ’n Paarlse antie met ’n goue hart, dié week 400 vroue na ’n spitbraai genooi het, het baie meer opgedaag as wat verwag is.

“Wanneer ’n mens arm is, word jy nooit na etes en spoggeleenthede genooi nie. Dit het my geïnspireer om ’n spogete vir minder­bevoorregte vroue te berei,” sê antie Magda.

Sy het ’n weeklikse sopkombuis waar sy ook kospakkies aan mense uitdeel.

Woensdag was egter spesiaal met haar spitbraai vir vroue in die Hugenoot-gemeenskapsaal. Hulp het van oral gekom.

Daar was gassprekers en vermaak is gereël.

Daar was meer as net die 400 vroue wat kaartjies gekry het, vertel antie Magda.

“Ek kon niemand wegjaag nie, want dit het so verkeerd gevoel. Ons het almal ingenooi wat buite gestaan het sonder ’n kaartjie,” sê sy.

En aan die einde van die dag was die kos oorgenoeg vir almal.

Rose Eksteen (57) en Jennifer Adams (47) stem saam dit was ’n eer om die dag saam met talle ander vroue te kon geniet.

ALTE lekker: Rose Eksteen (links) en Jennifer Adams voer mekaar sommer.
Massas: Die saal is amper te klein vir al die mense. Foto’s: Jonathan Lestrade
geniet dit: Die lekker borde kos word aan die vroue uitgedeel.

Hulle meen: “Magda doen baie goed vir ons en ons het die dag baie geniet.”

Elke vrou het ook ’n voucher van Spur en ’n geskenk van Maverick Trading ontvang.

Antie Magda vertel sy gee al sedert hulle kinders was, kos aan baie van die vroue wat Woensdag teenwoordig was.

Sy gee baie om vir haar medemens en wil altyd net meer doen, voeg sy by.

Behalwe haar weeklikse sopkombuis, was en sorg sy ook vir babas. En Vrydae is godsdiensdag vir die mense.

“Dan bid ons almal lekker saam,” sê sy met ’n breë glimlag.

“Soveel vroue ervaar nie die trotsheid van vrou-wees gedurende hierdie maand nie en daarom wou ek seker maak elkeen voel spesiaal.”

  • Mense wat graag met skenkings wil help, kan haar kontak by 071 328 5274.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters