2 dae gelede
Antie help man sy lewe terugneem
BAIE HÊPPIE: Venetia Orgill het Neville Jackson met sy gesin gereunite.  ~ Foto Verskaf

“REUNITED en dit voel so goed ...”

Ná 42 jaar op straat – en in tronkselle – is Neville Jackson terug by sy familie.

Jackson se storie is soos een uit ’n storieboek.

Sedert die ouderdom van 15 het Jackson niks anders as die strate en selle geken nie.

Venetia Orgill, bekend vir haar groot hart om straatmense soos haar eie te vat, sê sy het Jackson sowat nege maande gelede in die Tuine in die Kaapse middestad ontmoet.

“Ek het ’n calling van God gekry om na die Gardens te gaan toe ek Neville ontmoet het.”

Jackson se lewe sou ná net vier maande saam met Orgill sommer baie verbeter. Orgill vertel hoe Jackson altyd van sy mamma gepraat en na haar verlang het.

Die antie het toe Jackson se storie op Facebook gedeel.

“Ek het ná omtrent drie weke van soek ’n oproep van Neville se broer gekry wat ’n boodskap deur hul neef ontvang het. Die twee kon nie ophou met mekaar praat nie.”

Ná byna vier maande van beraadslaging tussen Jackson en sy familie is die besluit gemaak om hom terug huis toe te stuur. Donderdag was toe die groot dag waarop Jackson kon oorbegin.

Teen Vrydag het hy veilig by sy ouerhuis in Johannesburg aangekom.

Orgill sê toe sy met Jackson gepraat het, kon hy nie ophou dankie sê nie omdat hy weer by sy mammie is.

“Hulle het hom met ope arms verwelkom. Ek is net bly daaroor. Dis een mens minder wat op straat hoef te leef,” sê sy.

Orgill sê sy kon dit ook nie sonder die hulp van Madeleine Mandy Pekeur, Tania Ford, Garth van der Horst, Marius L. Fransman, Lana O’Neill, Pat Eddy, Mark Williams, Lisa O’Reilly, Carla Kote, Titania Fernandez en Rodney Scara Brown gedoen het nie.

Tans groom sy nóg twee mans om oor te begin.

Orgill rig ook ’n versoek aan enige persoon of organisasie vir kosdonasies om die mense te help. Haar selfoonnommer is 084 413 6760.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters