6 dae gelede
Afrikaans is "soos geen ander"
Rene Arendse
Rene Arendse sê haar leuse is: "Dat mense nie sal onthou wat ek hulle vertel het nie, maar hoe ek hulle laat voel het. Dat ek minder sal praat en meer sal doen."  ~ 

AFRIKAANS is daardie ‘event’ wat jy net nie kan misloop nie. Dis onmisbaar!

René Arendse, ‘n ambassadeur vir Afrikaans.com, som dit perfek op.

“Afrikaans is vir my onmisbaar want dit gee my die moed en vlerke om te kan droom,” sê sy.

Arendse, wat op die Kaapse Vlakte grootgeword het, sê Afrikaans is deel van haar grootword en dat dit soos moedersmelk die begin van haar was.

“Dis die mees unieke taal wat ek ken,” sê Arendse

“Dis onse diverse dialekte wat dit eintlik so lekker maak. Dit maak ons uniek. Dit herinner my van waar ek kom. Die meisie van die Kaap.”

“Somtyds kos dit vir my om uit te styg bo my omstandighede om regtig die onsigbare te kan sien...om te kan droom,” verduidelik sy verder.

“Dis wat my taal vir my beteken. Ons moet net vir ons kinders die geskenk kan gee en sê dis deel van my identiteit en trots.

“As ek vir my kinders kan wys hoe trots ek daarop is en steeds gebruik, dink ek dit sal nooit uisterf nie. As ons liefde vir taal kan oordra, sal ons dit vir altyd kan gebruik.”

Soos Arendse is die spanlede van Son ook opgemaak oor hul taal.

Kelly-Lee Ohlson, Son se entertainment-joernalis, sê Afrikaans is deel van haar as mens.

“Dis hoekom dit onmisbaar vir my is,” sê sy.

Ohlson sê sy is mal oor die woord ‘moerig’ en die gesegde ‘vroeg ryp, vroeg vrot

Early B is haar gunsteling Afrikaanse kunstenaar. Haar gunstelingliedjie, As ek geweet het, is juis van dié PE-rapper. Hy perform die song met Emo Adams.

Francois de Wet, Son se sportredakteur, sê  Afrikaans is die taal waarin hy grootgeword en geleer lees het.

“Dit maak nie saak wat die politieke geskiedenis van die taal is nie, dit is eie aan my,” verduidelik De Wet wat in Bedford in die Oos-Kaap grootgeword het.

“As bruinman glo ek ook ons het as nasie die taal eiesoortig aan ons mense begin maak. Met ons eie beskrywings vir sekere dinge.”

De Wet is mal oor die gesegde “jou krag moet trip”.

Early B, ‘n rapper wat op ‘n tyd ‘n klipgooi van hom in Port Elizabeth gewoon het, se liedjie, Potte, is tans sy gunsteling.

Die Ceresiet, Uh-Albry Bosch, Son se bladuitlegkunstenaar, sê Afrikaans is haar moedertaal en die taal waarin sy haar die beste kan uitdruk.

Haar gunsteling gesegde is ‘van die wal tot in die sloot’.

Dié fashion junkie is ook mal oor Caroline Grace en Fatman se Liedjie vir jou.



Melinda Stuurman, een van Son se fotograwe, sê Afrikaans is “soos geen ander”.

“Dit is so ‘n beskrywende taal. Daar is woorde wat jy nie direk kan vertaal nie. As jy dit wel doen, het dit net nie dieselfde impak nie,” sê Stuurman.

Haar gunsteling sêding is iets wat haar Biologie-onderwyser altyd gesê het: “Julle is soos klomp parassiete wat lewe op lewendige organismes”.

“Daar is so baie Afrikaanse liedjies waarvan ek hou dat dit ‘n onreg sal wees om een uit te sonder,” sê dié inwoner van Kalksteenfontein.

Soos haar kollegas is sy ook mal oor Early B. Die rapper se eerste single Ben Ten van sy debuutalbum, Aangename Kennis, is haar gunsteling.

Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense. Besoek Afrikaans.com vir meer.
Vertel ons op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar wat Afrikaans vir jou besonders maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters