4 jaar gelede
BRUIN WYNMAKER IS NIE GEKELDER
inspirasie: Elizabeth Pietersen is trots op haar wyn. Foto verskaf

KLINK gerus ’n glasie op dié inspirasie.

Elizabeth Pietersen van Ravensmead het nog altyd daarvan gedroom om haar eie wyn te maak. Nou proe sy die soete smaak van haar sukses met haar eie gebottelde wynreeks.

Sy het ’n kursus in wynmaak aan die Kaapse Wynakademie gevolg.

Daar het haar passie ontvou om wyn te waardeer en te maak.

Sy sê: “Binne vier weke ná die kursus kon ek die palate hanteer.”

Pietersen vertel hul maatskappy, Lindiwe Wines, was die eerste swart wynmaatskappy.

Hulle het sauvignon blanc en carbernet sauvignon gemaak. Dinge het egter nie uitgewerk nie en hulle moes weens finansiële druk sluit.

In dié tyd, sê Pietersen, het haar man siek geword en sy moes twee jaar na hom omsien.

“Dit was ’n moeilike hartseertyd vir my. Alles het donker gelyk.

“My seun Heinrich Abrams het my na ’n wynskou in die stad genooi. Ek wou eers nie gaan nie.

“Ek het toe besluit om tog te gaan. Toe ons daar kom, was ek so oorweldig. Op pad huis toe het ek en my seun besluit om ons eie wynmaatskappy te begin.”

Nadat sy die wynmaker Hennie Huskisson vir raad genader het, is haar en haar seun se wynmaatskappy, Libby’s Pride, gebore.

Vandag produseer hulle ses wyne. Dit word versprei in lande soos Pole, China, Duitsland en Ghana. Libby’s Pride is ook plaaslik in Shoprite/Checkers en Pick n Pay te koop.

“Ek moes baie opofferings maak en elke oggend vroeg opstaan om ons produk by winkels af te lewer.”

Pietersen wil vir vroue in Vrouemaand sê alles is moontlik as jy in jouself glo. Haar lewensmotto is: Moet nooit dink jou droom is buite jou bereik nie.

Sy sê: “Moenie bang wees om foute te maak nie. Só leer jy en kom net sterker daar uit.

“As bruin vrou was dit swaar in die wynbedryf, wat deur mans oorheers is. Ek het bewys dis moontlik.

“Ons kan met trots sê ons produk is landwyd beskikbaar. Dit het gelyk soos ’n groot berg wat geklim moes word en nou is die pad gelyk.”

Libbys Pride reik uit na die gemeenskap en bedien elke week kos aan die haweloses.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters