Verlede maand
40ste jaar toe ekstra special
SPOGGERIG: Everal en Pieter Visser in die dae voor die corona-virus.  ~ Foto Verskaf

MONTAGU. – ’n Egpaar het op hul 40ste huweliksherdenking die dodelike corona-virus ’n uitklophou gegee.

Everal (63) en Pieter Visser (64) het twee weke lank saam in die hospitaal baklei om aan die lewe te bly.

Sondag, op hul 40ste huweliksherdenking, is hulle uit die hospitaal ontslaan, vertel hul seun Ettiene.

Volgens Et­tiene was sy ouers so ernstig siek, hulle moes eintlik vandag dood gewees het.

Hy sê dis net gebed wat sy ouers deurgedra en hul lewe gered het.

Ettiene het aan Son vertel die corona-virus het hulle soos ’n dief in die nag bekruip.

Hy sê dit was baie skielik. Eers is sy broer positief getoets en kort daarna het albei sy ouers in die hospitaal beland.

Ettiene vertel: “Ons het twee harde weke agter die rug. Dit was stresvol, maar ons het geloof behou en vandag, op hul 40ste huweliksherdenking, is hulle albei uit die hospitaal ontslaan.

“Aan God al die eer. As dit nie vir Hom was nie, waar sou ons vandag gewees het?

“Ons het vandag trane van blydskap gestort. Dit kon regtig baie anders gewees het.”

Everal sê haar ontmoeting met die dodelike corona-virus is ’n ervaring wat sy nie kan beskryf nie.

Volgens haar het haar man eers ernstig siek geraak en sy het hom versorg. Daardie tyd was sy nog salig onbewus daarvan dat sy self ook met die virus besmet was.

Volgens Everal was haar man duiselig en hy kon nie op sy voete staan nie.

Sy het vir hom gebid en hom kruie sowel as medikasie ingegee, maar vinnig besef hy moet by die hospitaal uitkom.

’n Paar dae later het sy ook siek geraak en haar kinders moes haar ook hospitaal toe neem, sê Everal.

Wenresep

Sy vertel: “Die hartseerste was om te hoor hoe siek my man in die ander saal is. Dít was die seerste.

“Ek wens die siekte nie eens vir my vyand toe nie.

“Die klank van mense wat in die hospitaalgange huil, was traumaties.

“Die wenresep is drie manne in jou boot: jy, jou maat en die Here aan jou kant. En jy moet die regte keuses maak.

“Dit was nie maklik nie, maar die Here het ons gedra.”

Pieter sê om teen die virus te veg, was die uitdagendste ding tot nog toe in sy lewe.

Hy sê hy moes aan die lewe klou terwyl die vrees hom oorval het.

Pieter vertel: “Ek dink dis die taktiek wat die duiwel gebruik om jou van jou geloof te beroof.

“Wanneer jy ingee, verloor jy die stryd.

“Toe die dokters vir my sê ek het die virus, kon ek dit nie glo nie. Ek wóú dit nie glo nie.

“Ek dink toe ek aanvaar dit. Toe kon ek dit makliker beveg.

“Die dokter het my ook gerusgestel deur te sê daar is professionele dokters wat my kan help. Dit het my ook laat besef daar is nog hoop.

Ettiene sê hulle het geweldig baie ondersteuning ontvang terwyl hul ouers teen die virus geveg het.

Hy het almal op Facebook bedank.

Sy dankseggingsboodskap lees: “Dankie vir elke boodskap en telefoonoproep en in die besonder aan die mense wat daagliks na ons en hul welstand verneem het. Julle ken julself.

“Dit het ons elke dag krag en moed gegee.”

Hy het ook die Worces­ter- en Montagu-hospitaal bedank wat so goed na sy ouers omgesien het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters