2 jaar gelede
Tref voorsorg en hou gesin gesond
voorsorg: Hier is ’n paar wenke hoe jy kan sorg dat jy en jou familie gesond bly. Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

DEESDAE is dit ’n uitdaging om jou en jou familie gesond te hou met al die siektes wat in die lug is.

Maar moenie worry nie, ons het die beste wenke op die webwerf jw.org gaan soek om te sorg dat jy en jou familie so gesond moontlik bly. Siekte is ’n ongerief en ’n uitgawe, om die minste te sê.

Hier is ’n paar wenke om siektes te probeer vermy:

Handhaaf goeie higiëne

Om jou hande te was is een van die beste maniere om te voorkom dat jy siek word en dat siekte versprei. Een van die maklikste maniere om verkoue of griep te kry, is om jou neus of jou oë te vryf as jou hande met kieme besmet is. Jou beste verdediging teen sulke besmetting is om jou hande gereeld te was.

Goeie higiëne kan ook die verspreiding van ernstiger siektes voorkom, soos longontsteking en diarree-verwante siektes, wat elke jaar die lewe eis van meer as twee miljoen kinders onder die ouderdom van vyf.

Selfs die verspreiding van die dodelike siekte Ebola kan beperk word deur die eenvoudige gewoonte om hande te was.

Daar is sekere tye wanneer dit veral belangrik is om jou hande te was om jou gesondheid en dié van ander te beskerm.

Verseker dat al jou drinkwater – insluitende die water waarmee jy tande borsel, ys maak, voedsel en skottelgoed was of kook – van ’n veilige bron af kom, soos munisipale water wat voldoende gesuiwer is of verseëlde­ bottels water van ’n maatskappy met ’n goeie naam.

As ’n moontlikheid bestaan dat jou kraanwater besmet is, moet jy jou water kook of dit met die gepaste chemikalieë behandel voordat jy dit gebruik.

As jy chemikalieë gebruik, soos chloor of watersuiweringstablette, moet jy die vervaardiger se instruksies sorgvuldig volg.

Gebruik waterfilters van ’n goeie gehalte, as dit beskikbaar en bekostigbaar is.

As geen watersuiweringsmiddels beskikbaar is nie, kan jy gewone bleikmiddel gebruik. Voeg twee druppels bleikmiddel vir elke liter water by, meng goed en laat die water dan 30 minute lank staan voordat jy dit gebruik.

Let op wat jy eet

Dit is nie moontlik om goeie gesondheid te geniet sonder goeie voeding nie.

Goeie voeding behels ’n gesonde, gebalanseerde dieet. Jy moet dalk let op hoeveel sout, vet en suiker jy inneem, en jy moet jou nie ooreet nie.

Sluit vrugte en groente by jou dieet in en eet ’n verskeidenheid voedselsoorte. As jy die inligting op die verpakking lees, sal dit jou help om volgraanprodukte te kies wanneer jy brood, ontbytgraan, pasta of rys koop.

Dit is ryker aan voedingstowwe en vesel as produkte wat van verfynde graan gemaak is.

Wat proteïene betref, moet jy klein porsies vleis en hoender eet, en probeer om ’n paar keer per week vis te eet, as dit moontlik is.

In party lande is dit ook moontlik om proteïenryke voedselsoorte te kry wat van plante afkomstig is.

As jy te veel suiker en harde vet eet, loop jy die risiko om oorgewig te word.

Om hierdie risiko te verminder, moet jy eerder water as koeldrank drink. Eet eerder vrugte as nageregte wat baie suiker bevat. Beperk jou inname van die soort harde vet wat in kosse soos wors, vleis, botter, koek, kaas en koekies voorkom.

Dit is beter om gesonder olies eerder as harde vet te gebruik wanneer jy kook.

Te veel sout kan veroorsaak dat jou bloeddruk te hoog word.

As jy hierdie probleem het, moet jy die inligting op die verpakking van produkte lees om te verseker dat jy nie te veel sout inneem nie.

Gebruik kruie en speserye eerder as sout om jou disse te geur.

Hoeveel jy eet, kan net so belangrik wees soos wat jy eet.

Geniet dus jou kos, maar moenie aanhou eet wanneer jy nie meer honger is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters