3 jaar gelede
Outjie vas weens trance
vol lewe: Sharisha Chauhan se pic waaroor die verdagte skryf.
Taariq Phillips Foto’s: Instagram
tóé: Taariq Phillips hou Sharisha Chauhan vas. foto Verskaf
ekstase: Dit was op ’n trance dance soos dié dat Sharisha Chauhan dood is. Foto verskaf

WAS dit ’n nag van passie wat verkeerd geloop het of ’n mix van seks, dwelms en trance-musiek?

Wyle Sharisha Chauhan (21) se outjie, Taariq Phillips, is onlangs gearresteer vir haar verkragting en moord op ’n trance-paartie.

Phillips sê hy hoop om haar eendag in die hemel weer te sien.

Dié riller het hom op 31 Desember 2013 by die One World Festival trance-paartie op die spogplaas Le Bac langs die R45 in Wellington tussen meer as 4 000 mense afgespeel.

Phillips was onlangs in die Kaapse hooggeregshof voor vir verkragting en moord.

Hy’t egter voor sy arrestasie op sosiale media ’n foto van Chauhan gelaai met ’n boodskap. Hy het in die onderskrif teruggedink aan die eerste keer toe hy en Chauhan Leeukop saam uitgeklim het.

“Dié foto is vir die lieflike lady. Ek het nog nooit so ’n mooi siel en gawe, skone hart geken nie.

“Sy was regtig uniek. Ek is lief vir haar – ’n miljoen keer en meer. Mag jy in vrede rus, my liefde.

“Jou plek in my hart sal altyd onaangeraak bly.

“Ek hoop ek ontmoet jou weer in die hoogste hemele.

“Koester elke oomblik met jul geliefdes, familie, vriende en sielsgenote. Die lewe is te kort,” het hy geskryf.

Luidens die klagstaat het Chauhan en Phillips tydens die twee dae lange paartie ’n tent gedeel.

“Die aand het Chauhan, Phillips en van hul vriende dwelms gebruik en daarna gaan dans. Daarna het Chauhan olik gevoel en Phillips het haar na hul tent geneem.”

’n Uur later het Phillips hulp gevra. Chauhan was kaal in die tent. Dit het gelyk asof sy ’n fit kry. Phillips was heeltyd saam met Chauhan, lui die klagstaat.

Sy is die volgende dag in die Paarl-hospitaal oorlede.

“Op grond van Phillips se verklaring oor waar hy was, word daar beweer hy’s verantwoordelik vir die verkragting en moord.”

Luidens die nadoodse ondersoek is Chauhan verwurg en “was dwelms ’n bydraende faktor”.

Volgens die polisie is dit Phillips se semen wat hom met die moord en verkragting verbind.

Kapt. Louise du Plessis, polisiewoordvoerder, sê hulle het talle bewyse teen Phillips ingesamel. “Hy is deur die Paarl-polisie by sy huis gearresteer en later op borgtog van R2 000 vrygelaat.”

Hy verskyn weer in April.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters