2 maande gelede
Wyk-wedloop vandag beslis
Georgina Faldtman (da)Foto: Deon Ferreira  ~ 

SES politieke partye gaan môre baklei vir wyk 35 en 37 in die Nelson Mandelabaai-metro.

Hulle is die African National Congress (ANC), Demokratiese Alliansie (DA), African Christian Democratic Party (ACDP), Economic Freedom Fighters (EFF), Patriotic Al­liance (PA) en die Socialist Revolutionary Workers Party (SRWP).

Laas jaar het raadslid Neville Higgins (wyk 37) en Trevor Louw (wyk 35) op ’n raadsvergadering teen die DA gedraai.

Die DA het hulle hof toe gesleep en dié het beslis hulle is nie meer raadslede van die Metro nie.

Die DA se wykskandidate is Georgina Faldtman (wyk 37) en Helga van Staaden (wyk 35).

Faldtman het in Missionvale en Kleinskool grootgeword.

Sy sê die grootste kwessies in die wyk is gangsterism, werkloosheid, onwettige storting en basiese dienslewering.

“Die mense soek visibility van die polisie. Ek beplan ook om die buurtwag terug te bring. Ek sal openbare vergaderings hê en jong mense aan die hand vat, want hulle het nie rigting in die lewe nie.”

Helga van Staaden (da)­Foto: Theo Jeptha

Volgens Faldtman sal sy swartsakke verskaf en van deur tot deur gaan om mense in te lig oor die gevare van dumping.

Vir Van Staaden, wat in Bloemendal grootgeword het, is die grootste prioriteit die skoonmaak van illegal dumping spots.

“My langtermynvisie is om die Van der Kempskloof te laat herleef en dit die juweel van die noordelike areas te maak. Tweedens moet SMME’s ontwikkel word. Ons moet ook diens­lewering te versnel.”

Die ANC-kandidaat vir wyk 37 is Norman Malambo en Gary van Niekerk staan vir wyk 35.

Malambo woon in Bethelsdorp, Uitbr. 31. Vir hom is die skietery daar niks nuuts nie.

“In dié wyk is baie uitdagings, maar die grootste een is die skietery. Ons sal die jeug besig hou deur werkskepping en sportontwikkeling sodat hulle nie nodig het om mense te beroof nie.”

Malambo dink ook dienslewering is ’n uitdaging.

Van Niekerk, van Bloemendal, sê die groot uitdagings in wyk 35 is armoede, gangsterism, openbare vervoer en gebrekkige gesondheidsdienste.

“Vir die gangsterism vra ons die polisie om ons meer resources te gee. Tans is daar net een Casspir in die area. Dit beteken net die outjies skiet op ’n ander plek.”

Hy soek ook mobiele klinieke in die gebied, want baie mense woon te ver van die Chatty-kliniek af.

As die DA dié wyke behou, sal hy nek in nek wees met sy opposisie.

Verlede week is Victor Manyati, gewese DA-raadslid, se pos vakant verklaar.

’n Proporsionele raadslid gaan in sy plek oorneem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters