8 maande gelede
Werkloses na 4 meetings genooi
ATHOL TROLLIPFoto: deon ferreira  ~ 

MEER as 1 000 werklose gegradueerdes in die Nelson Mandelabaai-metro gaan na verwagting van vandeesweek af vier vergaderings oor werkskepping bywoon.

Athol Trollip, die plaaslike burgemeester, sê ’n burgemeestersopleidingsprogram is onlangs bekend gestel.

Dié program bied werkkontrakte van ses maande elk aan vier werklose gegradueerdes.

“Hierdie koalisieregering probeer die model in ander sektore herhaal deur die gaping tussen potensiële werkgewers en werksoekers te oorbrug. In ’n demonstrasie van doeltreffende verhoudings tussen verskillende regeringsvlakke werk die munisipaliteit saam met die departement van arbeid.”

Volgens Trollip gaan die vennootskap fokus op die voorbereiding en instandhouding van ’n databasis van die metro se werklose gegradueerdes.

Die proses sal begin by die geskeduleerde vergaderings. Amptenare van die departement van vervoer sal hierdie vergaderings bywoon.

“As burgemeester is een van my primêre bekommernisse die hoë werkloosheid­syfer in Nelson Mandelabaai, veral onder die jeug,” verduidelik Trollip.

“Die uitbreiding van die ekonomie is steeds die beste en mees volhoubare manier om werk te skep.

Dienste

“Ongelukkig het die nasionale regering misluk in sy belangrike rol om die ekonomie te laat groei.”

Trollip voeg by die plaas­likeregeringsamptenare sal steeds doen wat hulle kan om inwoners en geleenthede by mekaar uit te bring terwyl dienste terselfdertyd gelewer word.

“By die komende vier vergaderings sal ek ’n paar belangrike aankondigings doen oor die oogmerk en verskillende fases van hierdie inisiatief,” beloof Trollip.

Die eerste vergadering is vandag 14:00 by die Govan Mbeki Multi-purpose Sports and Community Centre op die hoek van Ngoyi- en Rama­phosastraat in die Govan Mbeki-woonbuurt.

Die volgende vergadering vind op Donderdag 15 Fe­brua­rie 09:00 by die Uitenhage-stadsaal plaas.

Die derde vergadering word op Maandag 19 Februarie 14:00 in die Raymond Mhlaba-sportsentrum in Mother­well gehou.

Werklose gegradueerdes in die Northerns kan Dinsdag 20 Februarie om 13:00 die vergadering by die Gelvan­dale-gemeenskapsaal bywoon.

Almal wat die vergaderings bywoon, moet hul ID en gesertifiseerde kopieë van hul kwalifikasies saamneem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters