17 dae gelede
Werkers praat oor concerns
stresvol: Dinge lyk donker vir Jansenville en sy hospitaal wat nie Covid-19-gereed is nie.Foto: THEO JEPTHA  ~ 

DIE Sawas-gedenkhospitaal in Jansenville is nie gereed om Covid-19-pasiënte te versorg nie.

Intussen is ’n dokter by dié hospitaal tans onder kwarantyn nadat hy ’n Covid-19-pasiënt behandel het.

Só het Yvonne Ahrens, provinsiale voorsitter van Hospersa, die unie onder andere vir gesondheidswerkers, dié week aan Son gesê.

Nuusblaaie

Volgens Ahrens het afgevaardigdes van die unie die hospitaal laas week besoek om na die concerns van die werkers daar te luister nadat hulle die unie gekontak het.

Die hospitaal het vroeër die nuusblaaie gehaal nadat inwoners by die instelling opgeruk en tyres gebrand het toe ’n Covid-19-pasiënt sonder hul medewete daar opgeneem is.

Ahrens sê van die concerns wat die werkers geopper het, is dat die hospitaal ’n klein laundry het en Covid-19-pasiënte se wasgoed is veronderstel om afsonderlik gewas te word.

Volgens Ahrens het die hospitaal ook nie spesiale weggooibare geel sakke vir Covid-19-pasiënte se laundry nie.

Sy sê nog ’n concern is dat die hospitaal se lykshuis net drie laaie het. Ahrens sê wanneer ’n pasiënt aan Covid-19 sterf, moet die lyk in ’n spesiale sak geplaas word omdat dit ’n waterstof afgee.

Volgens Ahrens is daar ook nie aparte stort- en toiletgeriewe vir Covid-19-pasiënte nie.

Sy sê daar is boonop nie ’n kleedkamer vir die verpleegsters nie.

Ahrens sê daar is nie ’n aparte ingang vir mense wat na die hospitaal kom vir Covid-19-toetse nie.

Volgens haar sit dié pa­siënte in dieselfde gang as die ander buite-pasiënte.

Sy sê Vrydag het die unie ’n verslag gekry wat lui dat die hospitaal ontsmet is.

Moan

Volgens Ahrens is personeel van die hospitaal Vrydag getoets vir Covid-19 en hulle is tans onder kwarantyn terwyl hulle wag op hul uitslae.

Ahrens sê werkers moan ook daaroor dat daar geen deursigtigheid is nie.

Hulle sê die hospitaal se bestuur hou die staff nie op hoogte van hoe die hospitaal gaan operate nie.

Sy sê sy het ook verneem die regering wil die hospitaal ’n Covid-19-hospitaal maak vir mense wat ondersoek moet word.

Ahrens sê toe die unie Donderdag by die hospitaal was, was daar twee pasiënte wat vroeër in kontak was met twee ambulansmanne wat positief vir Covid-19 getoets is.

Volgens haar het hierdie pasiënte simptome getoon en gesit en wag waar die algemene pasiënte wag.

Sy sê voorts dat daar op 27 Mei ’n Covid-19-positiewe pasiënt was van wie daar X-strale geneem is.

Sy sê die probleem wat nou kop uitsteek, is dat werkers wat wag op hul uitslae, gedwing word om te werk, anders gaan stappe teen hulle gedoen word.

Ahrens sê nóg ’n concern is dat daar net twee toilette en een badkamer in die algemene saal is waarin daar 18 beddens is.

Volgens Ahrens maak mans, vroue en kinders gebruik van dié geriewe.

Boonop moet die buite­pasiënte – mans en vroue – een toilet deel.

Ahrens sê die kraamsaal waarin daar vyf beddens is, het ook net twee toilette en een badkamer.

Navrae

Volgens haar het die hospitaal ook nie ’n komitee belas met infeksiebeheer, gesondheid en veiligheid nie. Sy sê die werkgewer is verantwoordelik vir die veiligheid van die staff en pasiënte.

Son het Maandag navrae aan Sizwe Kupelo, die woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, gestuur vir kommentaar.

Kupelo het onderneem om voor 12:00 gistermiddag op hierdie navrae te reageer.

Teen gistermiddag laat het hy egter nog nie op die navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters