14 dae gelede
Wéér chaos in Metro-raad
Mongameli Bobani  ~ 

WEET hulle ooit waartoe hulle ingestem het?

Vrydag was daar confu­sion in die raadsaal van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

Eerstens het die raad sake wat op die agenda op groen papier (en dus privaat) is in die teenwoordigheid van die media en die publiek probeer afhandel.

Tweedens is daar vrae oor die kwessie of daar ’n kworum was vir aanstellings in hoë poste in die munisipaliteit.

Dit was ’n spesiale vergadering wat die burgemeester, Mongameli Bobani (UDM), versoek het.

Vrydag was die raad veronderstel om te stem oor die aanstelling van die uitvoerende direkteure van verskeie direktorate. ’n Nuwe hoofbeampte van finansies en die hoof van bedryfsbestuur moes ook aangestel word.

’n Geld-lening aan die Metro was ook op die agenda.

Intussen was die DA se wantroue-mosie, wat die ACDP gesekondeer het, nie op die agenda nie. Die DA het dit in Junie by die kantoor van die speaker, Buyelwa Mafaya (ANC), ingedien en dit sou op Vrydag se vergadering gedien het.

Tesourie

Mafaya het egter gesê omdat dit ’n spesiale vergadering is, sal net die items op die agenda bespreek word.

Die mosie het toe nie gefeature nie.

Verder is raadslede van opposisiepartye nie ingelig oor wie die kandidate vir die vakante poste is nie. Dit het gebeur nadat daar aan hulle gesê is die inligting sou op Vrydag se vergadering aan hulle verskaf word.

Vrydag was die deadline vir aanstellings in dié poste, wat die nasionale tesourie aan die Metro toegeken het.

Dit is onduidelik of die ANC, UDM, AIF, UF en EFF bewus was van wie die kandidate vir die poste is.

Mafaya het nie kans gegee dat oor die saak gedebatteer word nie.

Toe die DA, Cope en ACDP uit die vergadering geloop het omdat die wantroue-mosie nie aangehoor is nie, het Mafaya die raadslede wat bly sit het, gevra of hulle saamstem met die kandidate se aanstelling.

Hulle het ingestem en sy het aangekondig al die betrokke items is goedgekeur.

Die raadslede het nooit hulle hande opgesteek nie.

Marlon Daniels (PA) het haar gevra of die raad ooit ’n kworum gehad het.

Daarna het die vergadering privaat voortgegaan sodat die kwessie bespreek kon word.

Nadat die vergadering verdaag het, het Bobani gesê: “Oor wat gebeur het, gaan ons met ons legal team praat sodat ons kan ontleed watter benadering die Metro moet hê. Die raadslede het uitgeloop terwyl die proses aangegaan het.”

Athol Trollip (DA) het gesê sonder die teenwoordigheid van Bongo Nombiba (ANC-raadslid) en ’n ander ANC-raadslid, asook ’n EFF-raadslid, het die raad nie ’n kworum gehad vir die aanstellings in die hoë poste nie.

Nombiba het onlangs aangemeld by die St. Albans-gevangenis nadat hy tronkstraf gekry het vir geldwassery en bedrog.

“Niemand is gevra of hulle die mosies teenstaan nie. Ons het die getalle gehad om ’n kworum vir die wantroue-mosie te hê,” het Trollip gesê.

“Wat hier gebeur het, is ’n sirkus en hulle het nie comply nie.”

Lance Grootboom (ACDP) het gesê die raadslede wat teenwoordig was, het saamgestem met iets waarvoor hulle nie noodwendig dokumente gekry het nie.

Siyasanga Sijadu (Cope) het saamgestem en gesê hulle het geen aanbevelings oor die kandidate ontvang nie. Sy het die vergadering as ’n joke beskryf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters