13 dae gelede
Weens euwel op ’n heuwel
maak reg: Christian Martin (links) en past. Jan Bekkies berei die slaapplek op die heuwel voor. Foto: THEO JEPTHA  ~ 

DIE Khoi- en San-mense van die Baai gaan eers rus wanneer iets daadwerkliks aan gangster­ism in die noordelike areas gedoen word.

Ter wille van die cause het die maatskaplike aktivis Christian Martin en nog Khoi- en San-mense hulle kooigoed tot op die heuwel by die reservoirs in Uitbreiding 31 gevat en begin om daar te oornag.

Dít is nou ten spyte daarvan dat die winter reeds in volle gang is en dit gevolglik snerpend koud is.

Die groep het gisteraand reeds – met die aanvang van Pinkster – op die heuwel geslaap.

Hulle wil tot eerskomende Saterdagaand op die hoogtetjie oornag en Sondag terug­keer huis toe.

Martin sê die doel van die oefening is om te demonstreer wanneer mense aanhoudend gerieflik slaap, vergeet hulle van die ongerief waarin mense moet slaap wat in die bendegeteisterde areas woon.

Opoffering

Volgens hom slaap sowat sewe in dié stadium op die heuwel.

Martin sê deurbrake kom deur opoffering.

Hy nooi almal om hom en die ander lede op die heuwel te kom join.

Op die heuwel gaan daar onder meer oor die pad vorentoe gepraat word en planne gemaak word.

Voordat die groep hulle gister daar tuisgemaak het, het ’n march by die Extention 32 crossing begin.

Martin verduidelik die doel daarvan is om te wys die gemeenskap soek hulle strate terug sodat hulle veilig in hulle areas kan rond­beweeg.

Verlede jaar het Martin saam met ander Khoi- en San-mense in Hankey in doodskiste langs die graf van Dawid Stuurman geslaap.

Mense het toe gekla hy soek bloot aandag.

“Natuurlik soek ek aandag,” kap Martin terug.

Met sy “aandagsoekery” kon hy immers die minister in die Baai kry.

Die kis, verduidelik hy, verteenwoordig ook mense se ongerief.

Volgens Martin verneem hulle gangsters vlug uit die Baai en gaan voer dan ’n skrikbewind in dorpies soos Alexandria, Humansdorp en Kirkwood.

Martin vertel ’n pastoor van Humansdorp het juis die groep gevra om bendegeweld in hulle dorp te help uitroei nadat sy seun met ’n panga opgekap is.

Son wou by Farouk Jeptha, die voorsitter van die Concerned Citizens of PE Metro (CCPEM), weet wat hy van Martin en die groep se nuwe inisiatief dink.

Veldtog

Jeptha het gesê: “Elke bietjie help ... Of dit nou ’n march of gebedsessie is. Almal is óp van die gangsterism.”

Hy het bygevoeg die CCPEM steun Martin-hulle se veldtog, want dis ’n poging om geweld te verminder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters