4 dae gelede
Water maak talle huisvas
ONGERIEFLIK: Gerald September try op sy eie van die water voor sy huis in Vygiestraat verwyder.  ~ Theo Jeptha

SY KAR is besig om te roes en glasstukke wat onder in die water skuil, sny mense se voete.

Dis ’n paar van die probleme wat die watermassa – reënwater en rioolafval – in Vygiestraat en Adamsingel in die woonbuurt Valencia in Addo inwoners besorg.

’n Moedelose Eric Toring, ’n inwoner, sê die probleem kom nou al jare aan.

Hy sê geblokte pype en dreine en ’n tekort aan doeltreffende infrastruktuur om water weg te voer, lei daartoe dat water in dié twee strate opdam.

Volgens hom is die dam waarheen oortollige water afgevoer moet word, reeds lank gelede toegegooi.

Hy sê die situasie is verder vererger toe ’n nuwe waterpyp in Jacarandastraat gelê is.

Toring sê kort nadat die pyp gelê en dit toegegooi is, het dit gebars toe ’n lorrie daaroor gery het.

Volgens Toring is Vygiestraat- en Adam­singel onbegaanbaar. Hy sê kinders sal nie by die hekke kan uitkom om skool toe te gaan nie. Toring sê die water stink ook erg.

Volgens hom was daar ’n voorval waar ’n vrou noodgedwonge deur die water moes stap.

Vlieë

Sy het haar kind op haar rug gedra. Die kind se kop het glo gekap toe sy in die watermassa gegly en geval het.

Gwen Bouwer, nog ’n inwoner, sê die stilstaande watermassa lok baie vlieë – tot in haar huis.

Sy sê: “Dit lyk dan so ’n mens is morsig.”

Volgens haar het hulle al baie – maar tevergeefs – by die munisipaliteit gekla.

Anthony Dancey, wyksraadslid, sê die munisipaliteit weet van die probleem, want hy kla al lank daaroor.

Volgens Dancey kan die mense nie so leef nie.

Hy het onderneem om alles in sy vermoë te doen om die probleem te help oplos.

Noodprojek

Ook Dancey skryf die onwelkome watermassa toe aan geblokte dreine en die feit dat die water nêrens het om heen te vloei nie omdat die dam toegegooi is.

Sidney Fadi, munisipale bestuurder van die Sondagsriviervallei-munisipaliteit, sê die munisipaliteit het ’n ruk gelede ’n noodprojek in die area geloods wat daarop gemik is om die water weg te voer.

Volgens Fadi is dit ook so dat die betrokke area ’n swamp is en wanneer dit reën, is die plek flooded.

Fadi sê omdat die aantal inwoners oor die jare meer geword het, moet die pyplyne opgegradeer word.

Die huidige pyplyne kan nie die waterkapa­siteit hanteer nie.

Hy sê vir dié doel moet ’n sakeplan opgestel word sodat befondsing hiervoor by die provinsiale regering aangevra kan word.

Volgens Fadi het die munisipaliteit reeds aansoek gedoen vir befondsing vir die aankoop van ’n masjien wat vaste rioolafval verwerk.

Hy sê dié masjien is baie duur en hy kan nie ’n time frame koppel aan wanneer die masjien beskikbaar sal wees nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters