11 dae gelede
Wag betrap werker met gesteelde PPE
Doctors putting on gloves and other PPE
'n Kontrakwerker is betrap terwyl hy besig was om beskermende drag te steel.  ~ Foto ter illustrasie: Getty Images

'N OPLETTENDE sekuriteitswag by die Frontier-hospitaal in Komani in die Oos-Kaap het Saterdag 'n kontrakwerker op heterdaad betrap terwyl hy besig was om agt bokse vol beskermende drag (PPE) weg te dra.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, sê die kontrakwerker was een van honderde mense wat deur die provinsiale regering ingeroep is om die verspreiding van Covid-19 te help beveg.

"Pleks daarvan om die departement te help, is die werker gevang terwyl hy lewensbelangrike PPE steel," sê Kupelo.

Sindiswa Gomba, LUR van gesondheid, het die sekuriteitswagte bedank vir die goeie uitvoering van hul pligte.

"As dit nie vir die oplettendheid van die sekuriteitswag was nie, sou die werker daarin geslaag het om die PPE te steel. Ons veroordeel sulke diefstal met die minagting wat dit verdien.

"Deur PPE te steel, het die werker werkers in die voorste linie, soos dokters, weerloos gelaat teen die bose virus wat reeds 8 662 lewens in die Oos-Kaap geëis het," sê sy.

Gomba wil nou hê die regstelsel moet 'n voorbeeld van die PPE-dief maak. - Algoa FM

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters