8 dae gelede
Vyf wil aaklige lewe hokslaan
beknop: Chief Melvin Smith, chief Joe Kreeling, Trevor Kopeledi, Christian Martin en chief Crawford Fraser slaap Maandagaand die eerste keer in die hok. FOTO’S VERSKAF  ~ 

HUL eerste aand in ’n klein hok was koud en ongemaklik, maar dis vir ’n goeie doel.

’n Groep Khoisan-aktiviste het Maandag die eerste aand in ’n selfgemaakte “dierehok” deurgebring.

Hulle voel die lewens­omstandighede van die diere by die Oos-Londense dieretuin is nie na wense nie – veral dié van die jaguar. Volgens livescience.com kan hulle natuurlike territory tot 80 km breed wees.

Oopgemaak

Chief Melvin Smith, chief Joseph Kree­ling, Trevor Kopeledi, Christian Martin en chief Crawford Fraser beplan om 11 dae in dié hok buitekant die dieretuin te bly – totdat Menseregtedag op 21 Maart gevier word.

Kreeling, wat van Oos-Londen is, sê die dieretuin is al daar vandat hy sy oë oopgemaak het. Dit wil sê die dieretuin is volgens hom minstens 58 jaar oud.

“Die ongerief is onbeskryflik. Dit het die hele nag gereën. Die koue wind het ingekom. Ons is vyf in ’n klein hok en kon skaars beweeg. Hoe moet die diere voel wat al jare in ’n hok is? God het nie diere geskep om in ’n hok te bly nie.”

Kreeling sê ook hulle hou elke oggend ’n motiveringsessie. Dan lees hulle uit die Bybel en moedig mekaar aan om uit te hou.

Martin sê: “Met ons eerste aand by Retail Park in Oos-Londen was dit koud. Die ligte van die sentrum is die hele nag aan en die generators het geraas.

“Ons het nog nie weer in kontak gekom met die bestuur van die dieretuin nie.

“Tot dusver is dit (die protesaksie) baie suksesvol danksy ál die handtekeninge wat ons kry van mense wat dieselfde voel. Wat belangrik is, is dat alle mense in die diverse Oos-Kaap saamstem met dit waarmee ons besig is.”

In Februarie het tientalle ontevrede diereliefhebbers voor dié dieretuin bymekaar gekom om vreedsaam te protesteer.

Hulle het geëis dat die dieretuin liewer sluit, aangesien baie van die diere se hokke te klein is en omdat daar in van die hokke geen koeltebome is nie.

Oscar Mabuyane, LUR vir ekonomiese ont­wikkeling, omgewingsake en tradisionele sake­ in die Oos-Kaap, was ook daar.

Mabuyane het ’n memorandum van die Khoi-aktiviste ontvang.

Die dieretuin behoort­ aan die Buffalo City-munisipaliteit. Samkelo Ngwen­ya, die munisipale woordvoerder, het gesê: “Die stad het die laaste twee jaar ’n bedryfsplan vir die dieretuin in plek gestel om die standaarde tot op die nasionale peil te verhoog.”

Ngwen­ya het toegegee die leefruimte vir die jaguar, een van die grootste katsoorte ter wêreld, is te klein. Hy het gesê daar is planne om die hok te vergroot.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters