13 dae gelede
Vyf mans vas ná polisie op groot daggavondste beslag lê
drugs: Die polisie in Queenstown het beslag gelê op dagga met ’n straatwaarde van meer as R1,5 miljoen. FOTOverskaf  ~ 

DIE polisie in die Queenstown-distrik het vyf mans gearresteer en beslag gelê op dagga met ’n straatwaarde van meer as R1,5 miljoen.

Kapt. Namhla Mdleleni, ’n polisiewoordvoerder, sê lede van die misdaadvoorkomingtaakspan in die gebied het Sondag inligting ontvang van ’n taxi wat vol dagga gestop is. Dié taxi was op die Moltenopad vanaf Dordrecht na Kaapstad onderweg.

Kort daarna is die taxi ge-spot en afgetrek.

“Ses groot mieliesakke is vol dagga gekry en twee mans in die taxi is op die toneel ge­arresteer.”

Die polisie se dagga-sukses het egter nie daar gestop nie.

Jaagtog

’n Kort rukkie later het polisiebeamptes ’n Quantum-taxi, waarvan die insittendes verdag voorgekom het, op die R61 in die rigting van Tarkastad gesien.

Toe die beamptes die taxi wou aftrek, het die bestuurder probeer wegjaag. Ná ’n kort jaagtog is die taxi egter van die pad af getrek.

Drie mans is gearresteer ná die polisie 53 sakke dagga in die voertuig gekry het.

Hierdie vyf verdagtes verskyn binnekort in die landdros­howe in onderskeidelik Queenstown en Molteno. Hulle sal verskyn op klagte van handel in dagga.

Brig. Pumla Mavuka, waarnemende cluster-bevelvoerder, is vol lof vir die goeie werk deur die beamptes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters