3 maande gelede
Vroue vat die leisels by NMU
DRIE(VROU)SKAP: Prof. Sibongile Muthwa (regs) en Geraldine Fraser-Moleketi word môre as onderskeidelik visekanselier en kanselier van die Nelson Mandela-Universiteit ingehuldig. Hulle sluit aan by nog ’n formidabele vrou, die raadsvoorsitter, Nozipho January-Bardill. FOTO verskaf  ~ 

DRIE vroue sal ná môre­ se inhuldiging van die kanselier en vise-kanselier aan die stuur staan van die Nelson Mandela-Universiteit (NMU).

In die jaar waarin oudpres. Nelson Mandela, na wie die universiteit genoem is, 100 sou word, gaan prof. Sibo­ngile Muthwa as visekanselier ingehuldig word en Geral­dine Fraser-Moleketi as kanselier.

Fraser-Moleketi en Muthwa sluit aan by nog ’n formidabele vrou: die raadsvoorsitter, Nozipho January-Bardill.

Zandile Mbalela, ’n universiteitswoordvoerder, sê die trio is eerbare en gere­spekteerde vroue met ’n onwrikbare toewyding om die universiteit so te bestuur dat dit die wêreldwye status van sy naamgenoot gestand doen. Die strewe is om Mandela se nalatenskap uit te leef om die kwesbaarstes in ons gemeenskap te koester, integriteit, respek en medemenslikheid te openbaar en die gemeenskap te bevorder deur studente goed te bekwaam.

Muthwa volg prof. Derrick Swartz op, wie se dekade lange ampstermyn ver­lede jaar geëindig het.

Swartz het haar aanstelling as ’n mylpaal in die geskiedenis van die universiteit verwelkom.

Mbalela het gesê Muthwa het jare lank leiers­poste in ontwikkeling, die openbare sektor en akademiese instansies beklee en komplekse probleme en situasies vaardig en moedig bestuur. Sy’t ’n uitstekende loopbaan hier en in die Verenigde Koninkryk gebou.

Voor haar aanstelling as vise-kanselier het sy die ondersteuningsarm van die universiteit as adjunk-visekanselier vir institusionele bystand gelei.

“Ons universiteit, sektor en land is by ’n kruispad. Ons kan die si­tuasie tot ons voordeel gebruik. By die NMU werk ons hard om strategieë toe te pas wat ons help om uitdagings help te oorkom en ons sterk op ’n positiewe groeipad te plaas. Ek sien uit daarna om met die span saam te werk om die universiteit na hoër hoogtes te neem,” het Mbalela gesê.

Volgens haar kom Mu­thwa se historiese aanstelling en inhuldiging op ’n tyd van groot verandering in die hoëronderwyssektor, waar studente die afgelope jaar aktief betrokke was by veldtogte vir maatskaplike geregtigheid en om gelykheid vir universiteitstudente en -werkers te bevorder.

Fraser-Moleketi volg die sakevrou Santie Botha op. Die voormalige minister van openbare dienste en administrasie het verlede jaar ’n eredoktorsgraad van die NMU ontvang vir haar bydrae tot leierskap in maatskaplike en ekonomiese transformasie, veral wat die bemagtiging van vroue betref. “Ek voel diep geëer deur die aanstelling en hoop om die universiteit goed te dien,” het sy gesê. “Die universiteit speel ’n sleutelrol in die ekonomie van die Oos-Kaap en omstreke.”

Sy het gesê sy wil veral waarde toevoeg deur ongelykheid en armoede uit te wis en werk te skep.

Fraser-Moleketi is ook ’n ereprofessor aan die Universiteit Stellenbosch.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters