23 dae gelede
Vroue soek bloed
Sien rooi: Arcadia se vroue is woedend oor die beweerde voorval.Foto’s: bryan goliath  ~ 

“HY HET my noefie gevryf tot dit rooi was.

“Ek het hom gevra om te stop, maar hy wou nie.”

Dít is die skokkende onthulling van ’n agtjarige dogtertjie van die Arcadia-woonbuurt in Port Elizabeth se Northerns.

Daar word beweer ’n vermeende pedofiel het die meisie en vier maats onsedelik aangerand. Nou soek die gemeenskap van Arcadia sy bloed.

Daar word voorts beweer die verdagte het sy luck Vrydag by die meisietjie en ander getry.

Vyf kinders, van wie die jongste net vier jaar oud is, is vermoedelik onsedelik aangerand.

Daar word beweer die verdagte (in sy 40’s) het die niksvermoedende kinders na sy huis gelok.

Die kindertjies vertel hy het hom kaal uitgetrek en toe ’n porn movie gespeel.

Daarna het hy na bewering die kinders se panties een vir een uitgetrek en hulle betas.

Volgens die gemeenskap is hulle nie net geskok en gewalg oor die beweerde gebeure nie, hulle is ook dronkgeslaan deur die feit dat die verdagte ná sy arrestasie Vrydag reeds weer buite rondloop.

Een van die inwoners, Felicity Langford, sê oor die bewerings teen hom: “Wat hy aan daardie arme kindertjies gedoen het, is nie reg nie.

“Hy moes toegesluit gewees het, en die sleutels van daai selle moes ver weggegooi gewees het.”

Langford sê al die kindertjies sukkel ná die voorval om te slaap. “Die kinders bly in trane. Hy het hulle hele lewe so te sê verwoes.”

Die betrokke straat was gister in rep en roer toe inwoners die strate ingevaar het.

Die verdagte het op die vlug geslaan, want die mense was agter sy bloed aan.

Die mammie van een van die kinders kon nie haar trane keer nie.

’n Polisiewoordvoerder, kol. Priscilla Naidu, sê die verdagte is aangekla van onder meer onsedelike aanranding en voor die hof gebring.

Rede

Naidu sê die saak is nie op die hofrol geplaas nie en die verdagte is vrygelaat.

Sy sê sy weet nie wat die rede vir dié besluit is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters