Verlede maand
Vrou loop hof ná sy 'baba verkoop'
baba
'n Jong ma het na bewering haar pasgebore baba verkoop.  ~ Foto ter illustrasie

'N JONG ma van die Oos-Kaap het Maandag in die hof verskyn nadat sy na bewering haar pasgebore baba aan 'n vrou van Johannesburg verkoop het. 

Dít terwyl sy vir die pa gesê het die kind is dood.

Yamnkela Nkote (21) en Beauty Shonnei Simoto (30) het in die Cala-landdroshof op klagte van kinderhandel en ontvoering verskyn.

Kapt. Lwando Zenzile, 'n Valke-woordvoerder, sê in 'n polisieverklaring Nkote het op 10 Oktober geboorte geskenk en die baba sonder die pa se toestemming aan Simoto gegee.

"Toe die pa vra waar die kind is, het Nkote gesê die kind is dood, maar kon nie die graf vir hom wys nie," sê Zenzile.

Die jong ma het toe later erken dat sy die baba vir 'n fooi aan 'n vrou in Johannesburg gegee het. Die kind is uiteindelik deur die Valke se eenheid teen georganiseerde misdaad in Kempton Park opgespoor en later aan die pa terugbesorg.

Nkote en Simoto verskyn op 2 November weer in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters