9 dae gelede
Vriend maan oor verdagte
Bradley Berges Foto’s: THEO JEPTHA  ~ 

“TERWYL ek besig was om te drink, het ek die hele tyd note gevat van die beweging buite die huis omdat beskuldigde nommer een die hele dag verby die huis op en af was.”

Só het ’n 23-jarige staatsgetuie gister in die Baaise hooggeregshof in die moordverhoor van Bradley Berges (23) van Schauderville en Given Cornelius (27) van Booysenpark getuig.

Hulle staan tereg vir onder meer ’n dubbele moord. Reagan Russell en Reagan Fourie is op 4 November 2017 tydens ’n after tears-geselligheid vir die ontslape Keith Bowkers in ’n garage­ by ’n huis in Schauderville afgemaai.

Die beskuldigdes pleit onskuldig op al die klagte teen hulle.

Volgens die getuie ken hy Berges sedert Mei 2016.

Hy het gesê hy het van Berges begin note vat nadat sy vriende hom vertel het Berges het ’n vriend van hom geskiet.

Volgens die getuie ken hy Cornelius net van sien. Hy het getuig hy het Cornelius so af en toe by die Glendinning Flats gesien.

Die man het getuig hy het ook op 4 November 2017 Bowkers se begrafnisdiens bygewoon.

Ná die funeral het hy en vriende op die hoek gestaan oorkant die huis waar die after tears gehou is.

Watch

“Ons het bespreek wat ons gaan drink.”

Volgens hom het ’n vriend toe gesê hulle moet die bike watch wat hier in die pad afkom. Die getuie sê dit was Berges, alias Pokkel, op die bike.

Volgens hom het Berges ’n rooi Nike jacket aangehad en ’n sonbril op die kop.

Volgens die getuie het hulle die drank gaan koop en toe in die garage gaan chill.

“Ek het nie baie gedrink nie, want my meisie was daai tyd swanger. Ek het net een bier gedrink.”

Volgens die getuie het ’n vriend van hom gesê om vir Berges te watch, want Berges is “besig met nonsens”. Hy het bygevoeg daar is kinders in die garage.

Die getuie het gesê hy het nog so lekker aan sy quart geteug, toe begin die skote klap.

Daarna het almal wat buite die garage gestaan het, by die garage ingehardloop, het hy getuig.

Volgens die getuie het hy onmiddellik op sy rug in die garage gaan lê en wag om te kyk of die skieters by die yard inkom.

“Die shots het nog steeds afgegaan. Soos die skote nader kom, kon ek die twee verdagtes sien.”

Die getuie het gesê die twee verdagtes het buite die garage gestaan en in die rigting van die garage geskiet. Volgens hom het een verdagte toe by die garage ingekom, maar hy kon nie sy gesig sien nie.

“Ek het nie ’n view gehad van hom nie.”

Die ander verdagte het toe gebukkend by die garage ingekom, luidens sy getuienis.

Volgens hom het hy gesien dié verdagte is Pokkel toe die persoon orent kom.

“Ek is 100% seker dit was Pokkel, want ek het direk in sy gesig gekyk.”

Hy het gesê in daardie stadium het Pokkel gekyk in die rigting waarin die gaste gehardloop het.

Volgens die getuie het die skieters hulle wapens leeg geskiet. Ná die skote het die verdagtes omgedraai.

Geval

Volgens die getuie het die een verdagte met die weghardloop amper oor ’n bike geval.

Die getuie het gesê benewens die slagoffers het vier ander mense skietwonde opgedoen.

Hy voeg by hy is nie self in die voorval gewond nie.

Die saak dien voor regter Irma Schoeman.

Adv. Garth Baartman kla aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters