9 dae gelede
‘Voorvaders gee reën’
verbetering: Die Churchill-dam is 90% vol na die onlangse swaar reën.  ~ 

DIE nuwe mayor sê dis Athol Trollip se skuld dat dit so kurkdroog is in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

Mongameli Bobani, die nuwe burgemeester, en nog hoës het gister die Impofu- en Churchill-dam anderkant Humansdorp besoek. Dit kom ná die goeie reënval in die Oos-Kaap.

Bobani het dié geleentheid gebruik om politieke punte te score.

Oorneem

“Dié reën het gewag vir die nuwe leierskorps.

“Onder die leierskap van Trollip was dit droog. Ons móés dus oorneem sodat ons die reën kon bring.

“Dankie aan ons Here, dankie aan ons voorvaders en dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het.”

Andile Lungisa, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, elektrisiteit, energie en ingenieurswese, was ook daar.

“Nadat die mayor oorgeneem het, het dit gereën.

“In ons kultuur glo ons reën is ’n blessing.

“Dit was ’n duidelike boodskap dat ons ancestors dit verwelkom.”

Volgens Barry Martin, die senior direkteur van water en sanitasie in die Nelson Mandelabaai-Metro, is die droogte nog nie verby nie.

“Die Impofu-dam is een van die Nelson Mandelabaai-metro se drie groot damme.

“Die ander twee is die Churchil- en Kouga-dam.

“Dit is belangrik om dit in die regte konteks te verstaan. Ons het baie reën gehad en ons is baie dankbaar vir die reën.

“Maar ’n dam soos Impofu sit steeds op 31% en Kouga op 31%.

“Die Churchill-dam sit op 90%, maar ons moet die grootte van die damme in ag neem.

“Die Churchill-dam is dalk 90% vol, maar ’n mens kan drie van hom in die Impofu-dam pas.

“ ’n Mens kan vier Churchill-damme in die Kouga inpas.

“Dit is die kleinste dam wat vol is.”

Martin sê die Nelson Mandelabaai-Metro kry die meeste van sy water uit die Impofu-dam.

Wanneer die Churchill-dam oorloop, loop dit in die Kromrivier en daarna in die Impofu-dam.

Die Kouga se water word gedeel met die boere en die Baai kry ook ’n sekere hoeveelheid daarvandaan.

Martin beklemtoon swaar waterbeperkings geld nog in die Metro.

Volgens hom sal hulle moet sit en kyk watter verstandige stappe nou gedoen moet word.

“Die pad vorentoe moet berekend, versigtig en prakties wees. Ons moet ver­antwoordelik werk met die water wat ons het.

“Dit help nie ons lig die beperkings en sit ses maande later in dieselfde bootjie nie. Die droogte is nie heeltemal verby nie.

“Ons het Dag Zero in ons agterkop gehad. Met dié reën is dit weggestoot. Maar dit sal jou deurdra as jy water bespaar selfs wanneer daar water is.”

Bobani se boodskap aan inwoners van die Baai was: “Moenie mors wat ons het nie. Gebruik water spaarsaam.”

Volgens hom wil hulle nie probleme hê wanneer mense die gebied in Desember besoek nie.

Die burgemeester het ook gesê Lungisa gaan met sy beamptes vergader om te bepaal hoeveel liter water mense hier voortaan per dag kan gebruik.

Verlede

Gister het die Kouga-dam op 30,93% gestaan, Churchill op 90,49%, Impofu op 21,24% en Groendal op 48,2%.

Die Churchill-dam was in Januarie 2016 laas so vol en die Kouga-dam in Maart verlede jaar.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters