3 maande gelede
Vlamme vreet vroegdag als
Verwoes: Sowat 23 shacks in Walmer het Maandagoggend afgebrand.Foto’s: Deon Ferreira  ~ 

SOWAT 23 huisgesinne is dakloos nadat hulle shacks Maandag omstreeks 03:00 afgebrand het.

Sowat 70 mense van die informele nedersetting Area Q in Walmer sit nou sonder heenkome.

Verskeie departemente, organisasies en munisipale beamptes het die slagoffers gister gaan sien om te kyk waar hulle kan help.

Die mayor, Mongameli Bobani, was ook daar, saam met Litho Suka, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid.

Verteenwoordigers van Sassa, die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (NMBM) se afdeling vir rampbestuur en die departemente van maatskaplike ontwikkeling, binnelandse sake en menslike nedersettings het ook besoek afgelê.

Die raadslid van wyk 4, Ayanda Tyokwana, het die groep na die toneel begelei.

Waar die shacks gestaan het, is niks oor nie.

Hier en daar het familielede rondgekrap om te kyk of iets nog te redde is.

Versamel: Gladice Gongcoba soek deur die puin vir metaal en ander verkoopbare items. INLAS: Regina Hogwana sê sy moes tot onderklere leen.

Toe die brand uitgebreek het, het mense geskarrel om besittings uit hulle shacks te dra, maar die vlamme het vinnig versprei. Genadiglik is niemand beseer nie.

“Ek was in my kamer en aan die slaap toe die brand uitbreek,” onthou Regina Hogwana­ (63).

Hogwana, haar twee kinders en ’n kleinkind het saam gewoon.

“My kleindogter het my wakker gemaak. Ek het net ’n gown aangehad.

“Al die klere en selfs die panty wat ek nou aan het, moes ek leen. My kleinkind se skooluniforms het ook uitgebrand,” sug Hogwana.

Hulle slaap nou by plaaslike mense wat hulle ken.

Gladice Go­ngcoba (55) en haar dogter het saamgewoon.

“Ek was in die huis. Toe ek uithardloop, het ek ’n klomp vlamme gesien.

baie min:

“Toe die een huis brand, het al die ander gebrand.

“Ek kon nie in die rook asem kry nie.

“Ons moes weghardloop,” vertel Go­ngcoba hartseer.

Baie van die slagoffers slaap voorlopig snags in die Apostolic Faith Mis­sion SA-kerk in Walmer.

Bobani het die slagoffers gerusgestel: “Ons het verskeie departemente genader om seker te maak dat die mense iets het om te eet.

“Ons rampbestuur het ook komberse verskaf.

“Dit is ’n gesamentlike ingryping dié van die nasionale, provinsiale en plaas­like regering.”

Themba Mahuwa is die waarnemende uitvoerende hoof van Community Chest.

Dié organisasie samel ook geld en broodnodige hulp­middele in.

Volgens Mahuwa het hulle dadelik klere, komberse en kos vir die slagoffers bymekaargekry.

“Ons reageer gewoonlik op situasies waarvan rampbestuur ons in kennis stel.

“Dié mense is big time geaffekteer.

“Oud en jonk het nou nie blyplek nie.”

Talle ander barmhartige Samaritane het ook bydraes gemaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters