9 dae gelede
Vies man loop toe na sy dood
Ntsikelelo DouwsFOTO VERSKAF  ~ 

DIE lewe van ’n man van Mandela Village in Uitenhage is die afgelope naweek geneem toe hy met ’n mes aangeval is.

Die moord op Ntsikelelo Douws (32) het sy familie en inwoners geskok.

In ’n vlakkie naby sy huis het inwoners hom opgetel en probeer huis toe dra, maar dit was te laat.

Volgens sers. Majola Nkohli, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie Saterdag omstreeks 22:30 gereageer op ’n scene in B. Brinkhuislaan.

“Op die toneel het die polisie die lewelose liggaam van Ntsikelelo Douws gekry, met verskeie steekwonde in die bolyf.

“Die motief vir die moord is onbekend en die polisie ondersoek ’n saak van moord.”

Natasha (31), Ntsikelelo se suster, het saam met hom in ’n huis gewoon.

“Ons was Saterdagaand na die swembad toe vir ’n kuier. Toe loop hy alleen huis toe, want hy was kwaad vir iets.

“Toe vanish hy net. Ons het hom gebel, maar hy het nie geantwoord nie,” sê Natasha.

“Toe gaan koop hy (volgens ander inwoners) ’n bier in Greenfields se tav­ern. Toe hy weer op pad is huis toe, het hulle hom in die bors gesteek.”

Iemand het die familie gebel en hulle is na die toneel toe.

“Toe ons daar kom, toe lê hy net. Ons het sommer gesien dis hy,” vertel Natasha.

“Ons ma in Klipplaat is ook geskok. Sy het net drie weke terug haar man begrawe en nou dít.

“Ons gaan hom baie mis.”

Volgens haar was Ntsikelelo ’n ordentlike, stil ou.

Wanneer hy kwaad geraak het, het hy weggeloop, pleks daarvan om te baklei.

Die polisie vra inwoners se hulp.

Aangemeld

Enige iemand met inligting oor die moord word vriendelik gevra om sers. Bennie van Wyk te bel by 071 475 1946.

Inligting kan ook aangemeld word by die Stop Misdaadlyn, 08600 10111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters