8 dae gelede
Versoening ’n uphill battle
vrye wil? Shinaaz Jacobs is vroeër vanjaar na haar boyfriend in Pakistan toe.  ~ 

SHINAAZ Jacobs (19) van Gerald Smith in Uitenhage gaan nie huis toe kom nie – nie omdat sy teen haar wil in Pakistan gehou word nie, maar omdat sy gelukkig is daar.

Só het Jacobs verlede week aan Son gesê.

“Daar is net drama as dit by my ouers kom. Hulle wil my net nie support nie.

“Hulle het my in die koerante gesit. Ek is baie kwaad daaroor. Ek sal terugkom wanneer ek so voel, want ek is gelukkig hier. Ek is oud genoeg om my eie besluite te neem.”

Aan die begin van die jaar het sy oënskynlik uit vrye wil Pakistan toe gegaan om daar by hy boy­friend, Warqas Khan, te gaan kuier. Hy is in Maart verlede jaar soontoe.

Nou is Jacobs al langer as twee maande in die buiteland. Haar visum het intussen verval.

James en Desireé Hill, Jacobs se ouers, is siek van kommer en meen iets is nie pluis met hul dogter nie. Hulle vermoed sy word teen haar wil daar gehou en sal enigiets doen om haar weer by die huis te hê.

“Hulle het my lewe de­stroy. Ja, ek het myself gesny en vir hulle ’n foto gestuur. Ek het dit nie gedoen omdat ek unhappy is of ge-torture word nie, maar omdat hulle my nie wil ondersteun nie,” het Jacobs voorts gesê. “Ek wil net hê die hele ding moet verby wees.”

Awais Khan, Warqas se broer en ’n eks-boy­friend van Jacobs, meen dis onnodig van die familie om hom die hele tyd te pla vir antwoorde; daarom het hy ’n protection order teen haar en haar ouers gekry.

Op 19 Maart het James glo vir Awais ’n boodskap gestuur wat sê: “Jou ma se p***, I’m com­ing for you.”

Op 24 Maart het James na Awais se winkel gegaan en hom gekonfronteer, glo voor twee polisielede.

In ’n vorige berig het James vertel hy het kwaad geraak en Awais met sy sak oor die kop geslaan.

Daar was ’n mes in dié sak, en dit het hom in die nek gesteek. James is glo op ’n waarskuwing vrygelaat. Awais het gesê: “Shinaaz is happy daar anderkant en haar ouers maak net drama. Sy word nie teen haar wil gehou nie en ek wil eintlik niks met hulle te doen hê nie.”

Kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die dossier is tans by die staats­veiligheidsagentskap vir ondersoek. “Die hof sal beslis of ’n vervolging sal geskied.”

Chandré Goliath van die departement van maatskaplike ontwikkeling in Uitenhage werk met Jacobs se saak. Ná die aanval op Awais het sy aanbeveel dat dat die hof ’n interdik teen Jacobs en haar familie toestaan en dit is goedgekeur.

Desireé voorspel nie mooi dinge vir die toekoms nie.

“Shinaaz sal moet terugkom, want haar pa gaan dit nie net so los nie.

“Sy moet op ons grond kom sê sy wil in Pakistan bly, dan sal ons gerus voel.

“Hulle sê vir haar wat om te sê – ek glo sy het nie ’n keuse nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters