2 maande gelede
Vermoorde kind (12) rus
so jonk: Die 12-jarige Eugene Komans se klasmaats sê vaarwel.Foto’s: deon ferreira  ~ 

’N VERMOORDE kind van Missionvale in die Baai is Saterdag ter ruste gelê.

Dis nadat Eugene Komans (12) se lyk op 23 September op ’n vullishoop gedump is.

Eugene, wat ’n gr 3-leerder aan die Primêre Skool Normoyle was, is die dag voor sy dood omstreeks 17:00 laas by die huis gesien.

Volgens sy ouers, Bea­trice Komans en Gerald Jaggers, het hulle seun nie gesê waarheen hy gaan nie.

Hy het gereeld by vriende gaan oorslaap en die volgende dag teruggekeer huis toe.

Die volgende oggend omstreeks 06:00 was daar ’n klop aan hulle deur.

Brandwonde

Dit was ’n inwoner van die gebied en dié het hulle ingelig hulle seun lê op ’n dumping site.

Toe Beatrice daar aankom, het sy gesien daar is skuim om haar kind se mond, merke aan sy nek en brandwonde aan sy lyf.

In die post mortem, wat verlede week uitgevoer is, is bevind dat Eugene dood is aan verwurging.

Die eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek die moord.

Eugene se skooltjie het Donderdag vir hom ’n gedenkdiens gehou en Saterdag het familie en vriende in die skoolsaal afskeid geneem van hom.

Ná die diens in die skoolsaal is hy in die Jacksonville-begraafplaas ter ruste gelê.

Hy word onthou as ’n baie spelerige seun wat baie maats gehad het.

As hy stout was en daaroor gekonfronteer is, het hy skuld erken en sy straf aanvaar.

Sy klasmaats en familielede het onbedaarlik gehuil, veral toe hulle na sy lyk gekyk het.

Beatrice sê die huis is baie leeg sonder haar enigste seunskind.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê geen verdagte is nog gearresteer nie. 

medelye: Tientalle familielede en vriende woon die 12-jarige Eugene Komans se begrafnis by.
In rou: Die verdriet is geëts op die gesigte van Eugene Komans se ma, Beatrice Komans, en pa, Gerald Jaggers.
tuis, maar weg: Eugene Komans se kissie word by sy ouerhuis ingedra.
totsiens: Eugene Komans se begrafnis is Saterdag in Missionvale gehou.
Swaar: Beatrice Komans staar verstar na die lyk van haar laitie.
ons vriend: Die broers Caylem (voor) en Ethan Booysen was klasmaats van Eugene Komans.
so jonk: Die 12-jarige Eugene Komans se klasmaats sê vaarwel.Foto’s: deon ferreira
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters