24 dae gelede
Verminkte lyk in veld gekry
Vrae: Mbulelo en Vuyiswa Mbelekana wil weet hoe hul seun dood kan wees as die cops hom na veiligheid begelei het.  ~ MKHUSELI SIZANI

VRAE.

Dít is waarmee die bedroefde familie van Anela Mbelekana van Govan Mbeki, ’n Baaise township, sit ná sy geheimsinnige dood.

Cops van die KwaDwesi-polisiestasie het Anela (23) verlede maand uit die kloue van ’n angry mob gered.

Vasgebind

Maar ’n bietjie meer as ’n week later het ’n veldwagter sy ontbinde lyk in die bosse gevind.

Volgens die polisie was sy hande en voete vasgebind en dit lyk asof hy verwurg en sy liggaam gedeeltelik verbrand is.

Anela se ma, Vuyiswa (60), sê sy het op 23 Mei gesien haar seun klim deur sy suster se kamervenster.

Vuyiswa sê: “Ek het hom gaan vra hoekom hy dit gedoen het en hy het vrees­bevange gelyk.

“Hy het gesê mense van die community jaag hom omdat hy weggehardloop het nadat hulle hom daarvan beskuldig het dat hy iemand se selfoon gesteel het.

“Kort daarna het mans met gholfstokke en stokke my huis binnegestorm.”

Sy sê die cops het genadiglik by haar huis aangekom en die situasie ontlont.

Volgens haar het die polisie haar seun se kamer deursoek en afgekom op ’n speelgoed-pistool.

Vuyiswa vertel: “Ek het die polisie gesmeek om Anela te arresteer, maar hulle het gesê hulle het nie ’n saak teen hom nie.

“Hulle het toe ingestem om hom na my ouers se huis in Zwide te escort, maar my ma sê hy het nooit daar aangekom nie.”

Rekord

Vuyiswa sê sy het haar kinders die Maandag na die KwaDwesi-polisiestasie gestuur om te gaan uitvind wat van haar seun geword het.

Haar dogter, Asanda, vertel: “Een van die polisie­beamptes daar het aan ons gesê dat hulle geen rekord van hom het nie.

“Hy het ons toe aangeraai om by ander polisiestasies te gaan soek en om selfs by die St. Albans-gevangenis te gaan hoor of hy nie daar is nie.”

Die soektog by daardie plekke en selfs tot by die lykshuis was egter vrugteloos.

Anela se hartseer pa, Mbulelo (69), sê sy seun was stout, maar het nie verdien om so te sterf nie.

“Ons het die polisie gevra om hom te arresteer. Ons het nie gevra dat my seun doodgemaak moet word nie.

“Ons soek die waarheid, soos waar het die polisie my seun afgelaai nadat hulle hom van die gemeenskap gered het?”

’n Polisiewoordvoerder, kapt. André Beetge, sê Anela is aanvanklik deur die betrokke polisielede na die KwaDwesi-polisiestasie geneem vir verdere onder­vraging.

“Anela kon nie in hegtenis geneem word nie, want niemand kon bewys dat die speelgoed-vuurwapen wat in sy kamer gevind is, gebruik is om ander te beroof nie.

“Die polisie­beamptes moes ’n ander saak gaan ondersoek en Anela wou nie wag totdat hulle terugkeer om hom na Zwide te vat nie.

“Hy het toe gesê hy sal self na die huis gaan omdat hy weet waar dit is,” verduidelik Beetge.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters