11 dae gelede
Verdagte in huisrooftog gewond
beseer: Die ambulans en polisie is op die toneel in Fairhamstraat waar ’n man van Algoapark ’n verdagte in ’n gewapende rooftog in sy huis het raakgeskiet.. Foto verskaf  ~ 

’N BAAISE inwoner het Vrydag op drie verdagtes in sy huis geskiet en een beseer toe hulle sy gesin wou rob.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê: “ ’n Man (38) het een van drie roofverdagtes geskiet en gewond toe hulle sy huis binnegekom het.”

“Daar word beweer dat die klaer se vrou omstreeks 08:00 in die voertuig was om haar kinders skool toe te neem. Drie onbekende mans het haar toe genader en ’n vuurwapen op haar gerig.”

Die vrou is by die huis ingedwing, waar die klaer hulle gekonfronteer het.

“Hulle het die slaapkamer binnegegaan en juwele gevat. Die klaer het intussen sy eie vuurwapen in die hande gekry en skote op die verdagtes afgevuur.

“Een van die verdagtes is toe in die maag beseer.”

’n Ander verdagte het teruggeskiet op die klaer terwyl hy besig was om sy gewonde vriend uit die huis uit te sleep.

Die twee het egter die gewonde net daar in die jaart gelos en gevlug.

“Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof en poging tot moord. Die gewonde verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal vir behandeling,” sê Naidu.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters