2 maande gelede
Verdagte dood, 1 beseer ná roof
kapt. andré beetgeFoto: son  ~ 

EEN verdagte is Maandag dood en nog een beseer ná ’n huisroof in KwaNobuhle.

’n Silwer Volkswagen Polo is tydens die huisroof gesteel.

Kapt. André Beetge, ’n polisiewoordvoerder, sê vier gewapende mans het die inwoners van die huis omstreeks 20:45 vasgebind, waarna die kar gesteel is.

Minder as ’n uur later het lede van die Motherwell-groep se operasionele bevelsentrum die voertuig op die R335 (die Addo-pad) sien jaag. Polisiebeamptes het probeer om die Polo te stop, maar die kar het verby hulle gejaag.

“Die beamptes het die voertuig agternagesit en die verdagtes het op die polisie begin skiet.

Aangehou

“Die polisie het teruggevuur en kort daarna het die voertuig gestop.

“Die verdagtes het uit die voertuig gespring en begin weghardloop. Een van die verdagtes het aangehou om op die beamptes te skiet.

“Die polisie het teruggeskiet en daarin geslaag om een van die verdagtes, ’n 25-jarige wat in sy bene getref is, te arresteer.”

’n Tweede verdagte is op die toneel doodgeskiet.

Die polisie het beslag gelê op twee replika-vuurwapens.

Daar word vermoed die twee verdagtes wat gevlug het, het die regte vuurwapen of wapens gevat.

Die beseerde verdagte is na die Dora Nginza-hospitaal geneem.

Wanneer hy aangesterk het, sal hy in die Motherwell-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ’n gesteelde voertuig en poging tot moord op polisiebeamptes.

Die verdagte sal in die landdroshof in Uitenhage verskyn om tereg te staan vir die klag van gewapende roof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters