Verlede jaar
Vastrap is al sat vasgebyt
chaos: 2018 Standfordweg het gister gebrand.  ~ 

DIE tyres het gister weer gebrand, want inwoners van Vastrap in die Baaise noordelike gebiede soek huise.

Gister van 04:00 af is verskeie hoofpaaie in en om Booysenpark met klippe en brandende voorwerpe geblokkeer.

Vastrap is ’n informele nedersetting met duisende shacks wat na aan mekaar staan. Die mense kry geen dienste daar nie en steel elektrisiteit.

Al wanneer hulle die munisipaliteit sien, is wanneer dié weekliks hul bucket toilets kom haal.

“In April het ons ’n budget meeting gehad met die burgemeester, Athol Trollip.

“Hy het gesê hy gaan ná sewe dae terugkom na ons toe, maar het nooit,” sê Chamelle Peacock, ’n gemeenskapsleier in Vastrap.

“Op 4 Augustus 2016 het Nqaba Bhanga (toe nog burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings) vir ons gesê Vastrap is vir hulle ’n prioriteit, maar hier sit ons nog steeds.”

Die ongelukkigheid gaan ook oor die hervestiging van inwoners in Qunu, waar hulle eindelik huise sal kry.

Die mense raak ongeduldig omdat dit volgens hulle nou al jare duur.

Intussen is tydelike containers in Vastrap opgesit vir oumense en mense met disabilities.

Hierdie con­tain­ers is egter baie koud in die winter, en nes die mense in die shacks, raak die inwoners gou siek.

Jesmaine Abrahams woon al 11 jaar in Vastrap.

“Ek was nog op laerskool toe ons hier kom bly het.

“Nou is ek getroud met kinders en ek het steeds nie ’n huis nie. Selfs my ma wag nog vir hare. Dis koud in die shacks en my vierjarige kind het TB opgedoen.”

Lee-Ann Bailey het vier kinders wat saam met haar woon. Sy sê hulle is gereeld siek en sy boer by die Dora Nginza-hospitaal.

Sizani Sondlo, nog ’n gemeenskapsleier, voeg by hul boumateriaal word boonop gesteel deur mense wat solank in Qunu gaan shacks opslaan.

“Party mense kom ná werk by die huis net om te vind alles is weggedra – die hele shack en selfs die meubels. Ons soek net huise. Die mense sal eers ophou betoog as Trollip self na ons toe kom.”

Norman Davids woon al 10 jaar in Vastrap. “Ek woon saam met my vrou, ons dogter en haar twee kinders.

“My vrou is gereeld siek met haar asmabors. Sy is tans in die hospitaal.

“Wanneer dit reën, is die hele shack binne nat. Dis ondraaglik.”

Die polisie het gister rubberkoeëls en traangas gebruik om die betogers af te weer. Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n woordvoerder, het bevestig die polisie was op die toneel, maar sê geen sake is geopen nie.

Trollip sê hy kan nie na elke protesaksie gaan nie. “Daar is raadslede, direktorate en burgemeesters­komiteelede wat met behuisingskwessies te doen het. Dit sal hulle ondermyn as ek soontoe gaan.

“Ek is ook gefrustreerd omdat huise nie vinnig genoeg gebou word nie. Baie projekte val onder die agentskap vir die ontwikkeling van behuising, wat deur die nasionale regering bestuur word.”

  • Bhanga het teen gistermiddag laat nog nie op Son se navrae oor planne vir behuising vir die mense van Vastrap gereageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters