5 maande gelede
Van gerieflik tot op straat
haweloos: Carmen Saffier en haar drie minderjarige kinders is sedert verlede Saterdag sonder blyplek. Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

AL WAT sy dink sy verkeerd kon gedoen het, is om só hard te bid vir ’n jong man dat hy flou geval het.

Dáárom, sê Carmen Saffier (45) van die Baai, is sy, wat ’n enkelma is, en haar drie kinders nou dakloos.

Die Vistarus Mission Station­, wat die gesin uit sy geriewe in Sydenham geskop het, verskil egter van Saffier oor haar weergawe.

Saffier moes laas Saterdag gou ’n plan maak vir slaapplek. Sy en haar kinders – ’n 12-jarige dogter en 4- en 15-jarige seuns – swerf nou rond en slaap by vriende of verlangse familielede.

Sy sê alles het begin skeefloop ’n maand nadat hulle laat in 2017 by Vistarus ingetrek het.

Saffier vertel: “Ons vier het vir ’n jaar en vier maande daar gebly.

“My kinders was toe reeds vyf maande uit die skool.

“Daar was ’n insident by die crèche. My jongste seun is beseer.

“Sy kop was geswel en hy kon vir ’n ruk nie mooi hoor nie.

“Toe ek navraag gaan doen, sê hulle ’n tweejarige kind het hom geslaan. My dogter het ook al baklei met ’n ander meisie op die perseel. Sy het haar met die vuis geslaan.”

Op Kersdag het dinge handuit geruk. Net voor Bybelstudie het Saffier gille in die mans se blyplek gehoor.

Toe sy die deur oopmaak, sien sy ’n ou sit op haar oudste seun en slaan hom met die vuiste.

Saffier se seun sê dis oor ’n misverstand.

Hy sê ’n ou met wie hy ’n kamer gedeel het, het sy voet seergemaak.

En toe hy hom vloek daaroor, dog ’n ander ou dis hý wat gevloek word.

Saffier vertel: “Ek het die man met ’n glas gegooi. Hy het my kind minstens 12 houe geslaan – ek het getel.”

Sy sê sy het die voorval by Vistarus se bestuur aangemeld, maar sy is geïgnoreer, toe bel sy die polisie.

Die bestuur het Saffier se seun ook daarvan beskuldig dat hy dagga op die perseel gebring het. Hy ontken dit egter.

Saffier glo eintlik sy en haar kroos sit nou op straat bloot omdat sy vir ’n jong man wat “suicidal” is, gebid het.

Sy sê die man het na sy oorlede ouers verlang, en toe sy vir hom bid, het hy flou geval.

Oor haar huidige dilemma sê sy: “Ek het begin rond soek vir blyplek, maar al kry ek ook blyplek, hoe gaan ek dit kan bekostig as ek werkloos is?”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters