20 dae gelede
Uit die shadows
MAIN OU: Shaidou Meinou se nuutste song het Baaienaars lekker aan die dans, lockdown of te not.  ~ Bryan Goliath

SHAIDO Meinou is terug.

Die land is dalk nog onder lockdown, maar dié kunstenaar het sy kettings afgeskud.

Die rapper wat 11 jaar gelede die opspraakwekkende liedjie “Schoolpeak” uitgereik het, is terug met ’n bang.

Van die stage af is Shaido Meinou bekend as Sherwin Koopman (35). Hy sê sy nuwe song is “Wat Klap So?”

In die song vra hy hoe dinge nou in die rap-wêreld en in die Baai gaan.

Volgens Koopman het hulle die musiekvideo vir die song sonder ’n begroting geskiet.

“Ek is baie dankbaar teenoor­ die mense wat my gratis met die musiekvideo gehelp het.

“Junayne, wat in Jacksonville bly, het die video geskiet. Dan het Annastacia van die nagklub Rbar haar klub beskikbaar gestel. Viv Gardner van Next Development Agency het die modelle verskaf wat in die video optree, terwyl Junant Petersen, Porty Jay en Website ook ’n groot rol gespeel het.”

Baie Facebook-gebruikers het aanklank gevind by die video. Dit het heelwat positiewe reaksie ontlok.

Koopman sê die geheim in die bedryf is om nederig te bly. Twee jaar gelede was hy nog aan ’n rolstoel gekluister. Hy sê die Here het hom daaruit opgelig.

In 2016 het hy die liedjie “Pasop vir die Tikmonster” geskryf. Daarin lewer hy ’n pleidooi aan jong mense om weg te bly van tik.

Die rapper sê: “As kunstenaars kan ons baie vermag as ons saamstaan.

“Hier op aarde is daar vir almal ’n stukkie hemel. Met my liedjie ‘Wat Klap So?’ wil ek juis uitvind wat in die Baai aangaan.

“Ek voel baie positief oor die toekoms van rapmusiek, want daar is ’n plek daarvoor in die musiekbedryf. Daarom bid ek dat die Here my nederig sal hou en dat ek nie te groot vir my skoene sal raak nie.”

Hy sê dis wonderlik as mense hom op straat voorkeer en vra: “Hei, Shaido, wat is next ná ‘Schoolpeak’, my maat?”

Die musiekvideo kan op YouTube en op Shaido Meinou se Facebook account gesien word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters