11 dae gelede
Tyd bring nog geen vrede nie
VERPLETTERD: Naomi Hendricks sê sy kan nie haar kleinkind se dood verwerk nie.  ~ Bryan Goliath

DIE trane lê nog vlak in haar oë terwyl sy vertel van daardie aand dat hulle hele familie se lewe onherroeplik ver­ander het.

Eanen Hendricks (14) het ’n paar weke gelede in ’n tref-en-trap-ongeluk gesterf. Naomi Hendricks, sy ouma, is nog baie hartseer.

“Ek is nie verbitterd nie, net baie ongelukkig oor die stand van sake en teleur­gesteld.

Skok

“Dis vir my moeilik om te verwerk dat die motorbestuurder nie die ordentlikheid gehad om by die toneel te stop nie.

“Dit lyk so Eanen se lewe was niks werd nie omdat hy nie stilgehou en aangebied het om te help nie.

“Vir ons as familie was dit ’n skok dat hy die Maandag ná die Saterdagaand se arrestasie op borgtog van net R500 vrygelaat is,” sê die bedroefde ouma.

Keisha Hendricks, Eanan se niggie, vertel sy het haar na die toneel gehaas. Die ongeluk het nie ver van die huis nie in William Slammert Drive in Bloemendal gebeur.

“Hy het saam met vyf vriende winkel toe geloop. Die kar, wat teen ’n hoë spoed gery het, het twee van sy vriende net-netgemis.

“Ongelukkig is Eanan getref. Ek het nog gekyk of daar enige lewe by hom was.

“Hy was nog nie dood nie, maar hy was nie by sy bewussyn nie.

“Terwyl hy daar gelê het, het hy ’n fit gekry.”

Die 19-jarige Keisha verduidelik dit was absoluut angswekkend om haar neef so te sien lê.

Volgens Naomi was hulle in Timothy Valley toe sy die tyding ontvang.

“Toe ons ons haas na die toneel, het ons verby ’n kar gery wat die polisie by Timothy Valley afgetrek het. Die kar se windscreen was beskadig. Ek sê toe vir myself: Is dit nie dalk die ou wat my kleinkind raak gery het nie?

“My dogter, Eanan se ma, het sy dood baie swaar gevat. Sy het Dinsdag begin met ’n werk, maar moes huis toe kom, want sy kon dit nie hanteer nie.

“Sy het gewerk by dieselfde hospitaal waar haar seun gesterf het.”

Naomi sê Eanan was ’n gelukkige kind, baie nederig en vriendelik.

“Ons hele familie sukkel om oor alles te kom. Die lewe is net nie meer dieselfde nie.

“Een dag is dinge orrait; die ander dag bars ons in trane uit.”

’n Aanklag van manslag staar die beskuldigde in die gesig. Die beskuldigde verskyn Woensdag in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters