8 dae gelede
Twee wyke dié week by kruispad
tel: Die resultate vir die nasionale en provinsiale verkiesing word bekend gemaak by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Die ANC loop nasionaal, in die Oos-Kaap en in die Nelson Mandelabaai-metro voor. Foto: deaan vivier/netwerk24  ~ 

HOEVEEL kiesers in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit ondersteun nog die DA?

In 2016 het die party goed gevaar in die munisipale verkiesing. Hy het 46,66% van die stemme gekry.

Sy 177 551 stemme het hom 57 setels in die raad laat verower.

Die ANC het sterk tweede gekom. Met 157 920 stemme (41,50%) het hy 50 raadslede gekry. Die EFF was derde met ses setels en 5,03% van die stemme.

Verlede week se verkiesing was wel nie om die plaaslike regering te verkies nie. Dit was ’n stemming vir die na­sionale en provinsiale regering. As ’n mens kyk na die stemme in Nelson Mandelabaai, lyk dit of die DA support verloor.

Die ANC loop voor in die Metro. Hy het 46,15%, oftewel 182 881 stemme, in vanjaar se provinsiale verkiesing gekry.

Die DA het 156 222 stemme (39,42%) ontvang.

Derde staan die EFF met 30 664 stemme (7,74%).

Intussen berei verskeie politieke partye voor vir die tussenverkiesings in wyk 35 en 37. Die voormalige DA-raadslede Trevor Louw en Neville Higgins was hier in beheer.

Weggestap

In 2016 se munisipale verkiesings het die DA wyk 35 verower toe hy 7 027 stemme (90,03%) gekry het.

Die ANC het weggestap met 523 in sy guns (6,70%).

Met 65 stemme was die EFF hier ook derde (0,83%).

In drie jaar gelede se munisipale verkiesing het die DA 4 774 stemme (69,29%) in wyk 37 verwerf en die ANC 1 733 stemme (25,15%). Cope het toe 67 stemme (0,97%) gekry.

Tans loop die DA in albei wyke voor.

Wyk 35 het altesaam vyf stemstasies.

By die Primêre Skool Kroneberg se stemstasie loop die DA voor met 84,65% van die stemme vir vanjaar se provinsiale verkiesing.

By die Primêre Skool Astra loop die DA ook voor (82,24%).

Die DA geniet ook 84,86% van die ondersteuning by die Chatty-gemeenskapsaal.

By Heath Park-kampus is die DA tops met 82,46%, en by die Bethelsdorp-gemeenskapsaal het die DA 78,88% van die stemme ver­ower.

Wyk 37 het vier stemstasies. By die Primêre Skool Strelitzia het die DA 86,56% van kiesers se stem.

By die Tinkerbell-crèche geniet die DA 79,66% van die steun.

Die resultate vir vanjaar se provinsiale verkiesing was teen druktyd nie beskikbaar vir die TVS- en tydelike stemstasie in Bethelsdorp, Uitbr. 36, in wyk 37 nie.

In 2014 se provinsiale verkiesing het die ANC 70,75% van die stemme gekry. Sy steun het gedaal – vanjaar staan dit op 69,26%.

Die DA het in 2014 provinsiaal 15,87% van die stemme ver­ower, maar dit het gedaal tot 15,01%.

In die Oos-Kaap het die EFF groei getoon. In 2014 het sy steun op 3,78% gestaan, teenoor 7,72% vanjaar.

Die ANC het 10 026 047 stemme (57,51%) gekry in vanjaar se nasionale verkiesing, en die DA het 3 618 992 stemme (20,76%) verwerf.

Die EFF staan derde met 1 881 331 stemme (10,79%).

Andrew Whitfield, Oos-Kaapse provinsiale voorsitter van die DA, sê as ’n mens 2014 se nasionale en provinsiale verkiesing met vanjaar s’n vergelyk, het die DA se getal stemme stabiel gebly.

“Mense het ’n anderste track record gesien toe die DA vanaf 2016 vir twee jaar aan die bewind was (in die Nelson Mandelabaai-metro).

Behou

“Die DA bly in ’n sterk en stabiele posisie, in ag genome wat ons bereik het toe ons aan die bewind was.”

Woensdag word daar tussenverkiesings vir wyk 35 en 37 gehou. Whitfield sê hulle is confident hulle sal die wyke behou.

Ekstra bron: news24.­com/Elections

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters