7 dae gelede
Twee mans by huise afgemaai
kapt. André BeetgeFOTO VERSKAF  ~ 

NÓG twee hit-style-moorde is die naweek in die Baai gepleeg.

Dit kom nadat ’n vlaag van dié tipe moorde sedert die begin van die jaar reeds meer as 20 lewens geëis het.

Kapt. André Beetge, ’n polisiewoordvoerder, sê die eerste voorval het Saterdag 02:30 in Pehlegardstraat, KwaDwesi, plaasgevind.

Die lyk van die 31-jarige Athenkosi Gongxeka is in sy kamer gevind nadat bure ’n skietery gehoor en die polisie gekontak het.

Hy is verskeie kere in sy bolyf geskiet.

Woonstel

Die aanvanklike ondersoek het nog geen ooggetuies opgelewer nie.

Beetge sê die tweede skietvoorval het Sondag 20:20 in Unit 8 in Motherwell plaasgevind.

Hy sê die 33-jarige Msunduzi Ningi is in die woonstel agter sy ma se huis in Ranisistraat afgemaai.

Sy ma het die skote hoor afgaan en toe sy gaan ondersoek instel, op sy liggaam afgekom.

Sy het geen verdagtes gesien nie.

Beetge sê in albei gevalle is niks van die slagoffers of hulle huise geneem nie.

Beetge vra enige iemand wat dalk inligting oor hierdie saak het om lt.kol. Willie Mayi van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad te kontak by 082 697 5914.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters