4 maande gelede
Twee kry life vir 2 moorde
Given Cornelius  ~ Theo Jeptha

LEWENSLANK plus nog ’n ekstra 63 jaar agter tralies.

Dít is hoe twee gangsters, Bradley Berges (26) en Given Cornelius (30), in die Baaise hooggeregshof gevonnis is. Albei is lid van die Spotbouer-bende,

Dié vonnisse kom nadat Reagan Fourie (21) en Reagan Russell (16) op 4 November 2017 doodgeskiet is by ’n after tears-funksie by ’n huis in Dinsmoreweg in Schauderville.

Vier mense is in die skietvoorval gewond.

Berges is op 28 November 2017 gearresteer en Cornelius op 2 Desember 2017. Die twee is sedertdien in aanhouding.

Regter Irma Schoeman het Berges en Cornelius einde verlede jaar skuldig bevind aan twee klagte van moord, vier van poging tot moord en ’n klag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Vir die twee moorde het die twee killers lewenslange tronkstraf gekry. Vir elk van die vier klagte van poging tot moord het hulle 12 jaar agter tralies gekry en vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie nog ’n verdere 15 jaar.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

In haar uitspraak het Schoeman gesê Berges en Cornelius het die direkte bedoeling gehad om daardie aand soveel mense moontlik te vermoor.

Bradley Berges

Volgens haar het hulle semi-outomatiese vuurwapens gebruik om hulle dade te pleeg. Schoeman het gesê daar is genoeg evidence dat mense in die voorval beseer is, al het hulle nie self getuig nie.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, was vol lof vir die lang vonnisse en het die polisie se ondersoekspan en aanklaers gelukgewens.

Boodskap

“Die vonnisse wat misdadigers opgelê word, word beïnvloed deur die gehalte speurwerk en die goeie samewerking tussen ondersoekers en aanklaers.

“Die vonnisse van dié twee moordenaars is die result van ’n geïntegreerde benadering deur verskillende eenhede.

“Die vonnisse stuur ook ’n sterk boodskap uit aan ander misdadigers dat hulle die maksimum vonnisse kan verwag en dat ons as die polisie alles sal doen om te verseker dat mense in die Northerns veilig voel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters