2 maande gelede
Tikkop pak drie in mesaanval
skrikkerig: Die steker het na bewering vir Sarah Jacobs (heel links), Alfrida Jacobs, Solomon Jacobs, Romay Jacobs en Alfrido Pullen (voor) met ’n mes rondgejaag.Foto’s: deon ferreira  ~ 

MET ’n bier in die een hand het ’n bedwelmde tikkop drie ander mans beseer toe hy hulle met ’n mes aangeval het.

Dié bisarre toneel het hom Woensdagaand afgespeel by ’n huis in Ou Uitenhageweg in Bethelsdorp, Uitbreiding 36, in die Baai.

Die messteker het glo na sy meisie kom soek by Solomon­ “Ouman” Jacobs (33) se huis.

Dié was nie daar nie. Nogtans het hy met ’n mes in die hand die vertrek binnegekom.

Jacobs vertel hy en sy vriende, onder wie Keaden Jansen (20), het in sy plekkie gesit en drink en rook.

“Ek het gesê hy moenie so met ’n oop mes in my huis inkom nie, maar hy’t nie geluister nie. Ek was nie bang om met hom te baklei nie.

“Toe steek hy my in die bors en hand. Hy het my bier ook afgevat,” sê Jacobs.

aanval: Keaden Jansen het ’n wond aan sy bobeen opgedoen.

Jansen sê hy het probeer om die steker van Jacobs weg te kry, maar toe kom hy hom ook by met die mes.

“Toe ek weghardloop, voel ek ’n gat in my been. Ek’t huis toe gehardloop, maar in die pad neergeval voor die huis.

“Ek was vol bloed en my ore het toegeslaan,” sê Jansen.

’n Buurman het op hom afgekom en tot in die huis gehelp. Intussen het Solomon se oom wat daar naby woon, Henry Jacobs, die gillery gehoor en uit sy kamer gekom om ondersoek in te stel.

Toe hy die wapen sien, het hy teruggedraai, maar kry toe ’n meshou in sy rug. Sy long is raak gesteek. Hy is gisteroggend geopereer om die bloed uit sy long te dreineer.

Boonop het die steker na bewering Jacobs se familie­lede ook met sy mes rondgejaag. Hulle het in ’n buurvrou se huis gaan wegkruip en die polisie gebel voordat hy eindelik daar weg is.

Die slagoffers sê die steker se oupa het hom glo gisteroggend by die huis gesien toe hy sy mes gaan skoonmaak het, maar sedertdien is hy skoonveld.

Oupa

Gerugte wil dit hê dat hy dieselfde aand van die stekery sy suster en ma ook gedreig het.

Volgens inwoners het die steker sy oupa ook al met ’n mes gesteek. AO Alwin Labans, ’n polisiewoordvoerder, sê daar is geen reports van dié gebeure nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters