9 dae gelede
Talle groet Jesirano
Onthou: Shevonne Hobanie en haar kinders, Vestique en Juwayne, woon gister Jesirano se gedenkdiens by.  ~ Maryke Low

TOT SIENS, Jesirano.

Gister het die gr. 2-leerders van die Primêre Skool Rufane Donkin in die Baai kans gekry om finaal koebaai te sê aan hulle klasmaat.

Jesirano Hobanie (9) van Malabar Uitbreiding 6 het verlede Woensdag in ’n tref-en-trap-ongeluk omgekom.

’n Swart VW Golf met ’n manlike driver het volgens ooggetuies in Beetlestoneweg, Gelvandale, af gejaag en die seun hard getref.

Die driver het in Kobusweg af gejaag sonder om te stop. Hy is nog soek.

Jesirano het ’n ernstige kopbesering opgedoen en het ineengesak.

Hy is in die ambulans op die toneel dood en die polisie het ’n geregtelike nadoodse ondersoek geopen.

Sy klasmaats is nog geskok en hulle het gister ’n spesiale gedenkdiens in die God’s Assembly Church in Ter­blanchestraat gehou.

Ook die onderwysers is in skok oor die skoolseun se skielike heengaan.

Die onderhoof, Merwyn Plaatjies, het Jesirano as ’n beskeie seun beskryf.

Harte

“In 2017 het Jesirano deel geword van ons familie.

“Hy het onmiddellik in ons harte ingekruip. Hy was baie stil en respekvol.

“Dit het ons geskok toe ons (laas) Woensdag hoor die outjie wat in die pad lê, is een van ons eie.

“Dis die derde leerder wat ons dié jaar verloor.”

Die ander twee leerders het vroeër vanjaar in ’n shack in Malabar Uitbreiding 6 doodgebrand.

Hy het bygevoeg die leerders van die skool is nie net leerders nie, maar is soos hulle eie kinders.

Jesirano se klasmaats het ’n paar liedjies gesing met plakkate wat lees: “Jesirano, we will always remember you.”

Die onderwysers het ook ’n sangstuk voorgedra.

Shevonne en Anna Hobanie, Jesirano se ma en oumagrootjie, het onbedaarlik gehuil, veral toe ’n kers aangesteek is.

Sarahdene Jacobs, ’n klasmaat, het ’n gedig genaamd “ ’n Brief uit die Hemel” voorgedra.

Ná die diens het die familie en van die leerkragte na die ongelukstoneel gegaan om ’n kruis vir Jesirano te plant.

Juwayne (7), Jesirano se boetie, was ook daar. Hy weet nou sy broer is oorlede en het gehelp om die kruis te plant.

Môre sal Jesirano in die Malabar-begraafplaas ter ruste gelê word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters