6 dae gelede
Taakspan vir gangs op pad
CHRISTIAN MARTIN  ~ 

’N SPESIALE taakspan gaan in die bendegeteisterde dele van Nelson Mandelabaai ontplooi word.

Maar die long-awaited besoek van die polisieminister, Bheki Cele, na dié gemeenskappe het nie gebeur nie.

Talle polisiehoës, lede van gemeenskapspolisiëringsforums, inwoners en gemeenskapsleiers het gister by die 10111-nooddienssentrum in Schauderville vergader.

Hulle het onder meer gepraat oor die sinnelose moord op onskuldige mense in bendes se skietgevegte.

Minstens 75 moorde is sedert April in die Baaise Nor­th­erns gepleeg.

“Ons gaan ’n taakspan in die Oos-Kaap hê. Daar sal mense op die grond wees wat seker maak ons stop die misdadigers. Dit gaan ’n multi-dissiplinêre taakspan wees,” het Cele gesê.

Hy het genoem dat misdaadintelligensie en die nasionale ingrypingseenheid betrokke gaan wees.

BHEKI CELE Foto’s: THEO JEPTHA

Francois Beukman, die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor die polisie, het gesê die kwessies wat in die vergadering genoem is, sluit in bendegeweld, leierskap in polisiestasies, polisiekorrupsie en die beskikbaarheid van dwelms en wapens.

“Die profiel van gangsters dui aan dat hulle al hoe jonger aktief raak.

“Dis nie net ’n polisie-probleem nie. Maar ek glo daar moet ’n anti-bende-eenheid in elk van die land se Metro’s gestig word.”

Oplossing

Christian Martin, ’n Khoisan-leier wat ’n week lank in ’n doodkis geslaap het om die aandag op die moorde in die Northerns te fokus, was ook op die vergadering.

Hy het gesê vir eers sal hy en ander Khoisan-leiers die situasie dophou.

“Die anti-bende-eenheid alleen is nie ’n oplossing nie.

“Ons het ’n sosio-ekonomiese probleem wat voor 1994 ontstaan het. Ander faktore wat oorweeg moet word, is onderwys en dwelm-misbruik.

“Die gangsters het eintlik vir ons bewys hulle is besigheidsmense aan die verkeerde kant van die lyn.

“Dit beteken mense in die noordelike gebiede moet letterlik wakker slaap, want enige tyd kan iemand jou deur aftrap en jou besittings vat. As jy resist, kan jy doodgemaak word.”

JULIAN JULIES

Julian Julies, die selfverklaarde minister van gangsters, het gesê die taakspan is nie die beste idee nie.

“Die taakspan is ’n mors van geld – dit gaan nie in Desember help nie.

“Dié is die tyd wanneer gangsters strategise, planne beraam en besigheid doen. Ek wil net die gemeenskap waarsku dat hulle baie versigtig moet wees, want dié tyd rob gangsters jou – of hulle jou ken of nie ken nie.”

Julies meen dit gaan nie help om die army in te stuur of raids te hou nie.

Inwoners moet, volgens hom, saam beplan hoe hulle die situasie gaan benader.

Cele se walkabout is tot Maandag uitgestel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters