2 maande gelede
Taaiste toets kom na skool
in die wolke: Matrikulante van die Hoërskool Booysenpark wat hulle graad geslaag het, sien uit na die nuwe jaar.Foto ter illustrasie:theo jeptha  ~ 

DUISENDE skool­verlaters sien uit na die toekoms noudat hulle matriekjaar agter die rug is.

Maar talle uitdagings staar dié jong mense in die gesig.

Volgens Nomkhita Mona, uitvoerende hoof van die Mandelabaai-sakekamer, kan ’n mens aanneem ’n redelike groot getal Baaise matrikulante soek werk.

Mona sê: “Nasionaal is die werkloosheidsyfer vir diegene met matriek as hulle hoogste kwalifikasie 29,4%. Werkloosheid vir die­gene sonder matriek staan op 31,9%.

“Dít suggereer kandidate met ’n matrieksertifikaat het net ’n effense voordeel bo diegene sonder een.

“Die nasionale ekonomie groei nie vinnig genoeg om genoeg werk vir die land se jeug te skep nie.

Werkmark

“Nelson Mandelabaai het die swakste werkloosheidsyfer van Suid-Afrika se ag metro’s.”

Vir matrikulante wat nie verder kan studeer nie, is dit moeiliker om werk te kry as vir mense wat wel ’n naskoolse kwalifikasie agter hulle naam kan kry.

“Dis ’n uitdaging om toegang te verkry tot die werkmark – selfs vir mense met ’n graad.

“Baie werknemers vereis toepaslike werkondervinding én tersiêre opleiding.

“Matrikulante voldoen dikwels nie aan hierdie vereistes nie en kan dus nie in die aanvraag voorsien nie,” sê Mona.

Volgens haar sal die werkloosheidsyfer in die Metro eers verander as faktore soos die burokrasie, politieke onstabiliteit, misdaad en korrupsie onder die vergrootglas kom.

Matrikulante wat nie verder kan gaan studeer nie, word aangemoedig om kortkursusse te doen om hulle kennis en vaardighede te ontwikkel.

Mona meen ook besig­hede en maatskappye moet sulke opleidingskursusse in hulle onderskeie velde aanbied vir dié wat gretig en bereid is om te werk.

Opleidingskemas in ander industrieë sal ’n groot verskil kan maak op werkloosheid onder die jeug, voel sy.

  • Om matrikulante te help, het die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in Port Elizabeth verlede jaar ’n recruitment team begin uitstuur.

Hierdie span besoek skole, uitstallings, oueraande en ope dae en gee vir die matrikulante en ander leerders nuttige inligting.

Ontvang

Elma de Koker van die NMU sê hulle moes vanjaar voornemende studente wegwys omdat hulle nie voldoen aan die vereistes nie of omdat die programme waarvoor hulle aansoek gedoen het reeds vol is.

De Koker het gesê: “Volgens die NMU se toelatingsbestuurder, Zuki Mbuli, het ons altesaam 102 829 aan­soeke vir 2019 ontvang.

“Die fakulteit gesondheidswetenskappe het die meeste aansoeke gekry – byna 26 000.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters