21 dae gelede
Sy vat nie strooi
GOEIE SAAK: Michelle Vosloo en Peter Booysen maak gereeld hul buurt mooi skoon.  ~ Mkhuseli Sizani

ALMAL wil altyd die Nelson Mandelabaai-metro blameer vir hoe vuil en vol rommel sy gemeenskappe is.

Maar Michelle Vosloo, ’n 70-jarige pensioenaris van die woonbuurt Arcadia in die Baai, het besluit om haar moue op te rol en haar buurt self op te ruim.

Elke dag maak Vosloo sowat 500 m van ’n oop stuk veld in haar buurt skoon.

R40 miljoen is vir die 2019-’20-boekjaar begroot om illegal dumping te probeer stop.

Dit lyk egter of die munisipaliteit besig is om hierdie battle te verloor.

Vosloo raai ander inwoners aan om self in te spring om hul gemeenskap op te ruim.

Sy sê: “Illegal dumping begin by jouself.

“Die munisipaliteit kom maak elke week die vullisdromme leeg, maar dis ons wat self die vullis op oop terreine gaan stort.

“Ek haat onhigiëniese toestande.

“Om net in ’n vuil plek te wees maak my klaar siek.”

Die afgelope 20 jaar knyp Vosloo van haar pensioengeldjies af om tuingereedskap te koop om haar buurt mee skoon te hou.

Diefstal

Sy vertel: “Dit is my tweede stel tools hierdie, want my eerste stel is gesteel.

“Die diefstal het egter nie ’n demper op my gees geplaas nie.

“Al wat ek wil hê, is vars lug. Ek sit gereeld met lede van die gemeenskap vas wat so loop en rommel strooi orals waar hulle kom.”

Die 57-jarige Peter Booysen help Vosloo altyd op dae wanneer hy ’n blaaskansie van sy werk kry.

“Ek het besluit om haar te help.

“Wat sy doen, is tot voordeel van die hele gemeenskap. As jy na ander plekke kyk, sal jy sien hoe vuil dit lyk, maar ons s’n is skoon en mooi.

“Selfs klein kinders kom help ons. Dis belangrik om hulle te leer om ons omgewing altyd skoon te hou,” het Booysen verduidelik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters