4 dae gelede
Swembad nou al weggedra
Beter dae: Dis die swembad-geriewe in Schauderville voordat skollies dit geplunder het.Foto: Son  ~ 

DIE Schauderville-swembad in die Baai gaan al hoe meer agteruit.

Dit het in ’n bietjie meer as ’n jaar erg verval.

Skollies dra die plek baksteen vir baksteen weg en steel enige ding waarop hulle hul hande kan lê.

Die swembad was 60 jaar lank die hart van Schauderville.

Inwoners het veral in vakansietye hier bymekaargekom om te ontspan.

Nou is dit nie ’n opsie nie en saans hang gevaar­like karakters daar uit.

John Best, DA-raadslid van wyk 7, het onlangs ’n oorsigbesoek aan die vernielde swembadgerief gebring.

“Verlede jaar op 21 Junie het die wyk 7-kantoor vergader met die (Metro se) afdeling vir sport, ontspanning, kuns en kultuur omdat die fasiliteit besteel word,” het Best gesê.

“Op 26 November het ek persoonlik vergader met beamptes en toe was die draad (om die perseel) reeds afgesteel.

“Ek het vir hulle gesê hulle moet die swembad bewaar, want ons wil gangsterism beveg.”

Terwyl hy by die swembad was, het ’n besorgde ma hom genader en gekla die kinders het nou nie meer ’n swemplek nie en hulle raak by bendes betrokke.

Die opknapping van die swembad is nie ingesluit in vanjaar se geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) nie.

In November verlede jaar het Marlon Daniels, PA-raadslid, ook die swembad besoek.

Hy het die belangrikheid van sekuriteit op die perseel benadruk en gesê eerstens moet ’n heining weer opgerig word.

Saam met hom was Ndileka Leqela, toe die adjunkdirekteur van swembaddens en binnenshuise sentrums in die Nelson Mandelabaai-metro.

Sy het aan Son gesê in die boekjaar 2018-’19 was daar nie planne vir die swembad nie.

“Ons weet al ’n ruk van die vandalisme.

“Dit het met inbrake begin,” het Leqela gesê.

Gedreig

“Die hek en die sliding door is gesteel. Die alarmstelsel ook.”

“Ons sekuriteitsbeamptes op die perseel is gedreig. Hulle lewe was in gevaar.”

Lehlohonolo Mfana, mayco-lid vir sport, ontspanning, kuns en kultuur in die Metro, se selfoon was af.

Die sekretaris in sy kantoor het gesê hy sal eers vandag terug wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters