5 maande gelede
Sus (12) brand in ’n shack uit
hartseer: Jeanine Olifant, Desnell Stevens se antie, hou die laaste foto’s van haar vas. Dis al wat oor was nadat die brand uitgebreek het. Foto’s: Theo Jeptha  ~ 

BURE het verwoed geswoeg en gesweet om die verwoestende brand te blus, maar dit was reeds te laat.

Die lewe van Desnell Stevens (12), van Harringtonstraat, Arcadia, in die Nor­th­erns, is Dinsdagaand grusaam kortgeknip toe die plakkershut uitgebrand het waarin sy en haar jonger suster lê en slaap het.

Gister was as en verbrande sinkplate die stille getuienis van die gru-voorval wat hom vroeër daar afgespeel het.

Net ’n handvol foto’s van Desnell is nie in die brand verwoes nie.

Desnell se ma, Ronelle Petrus­, en haar ouma Bernadette Hatchies was nie gister in ’n toestand om met Son te praat nie. Elkeen het ’n inspuiting gekry om hulle te kalmeer en te help rus.

Razzaq Hart, Petrus se boyfriend, sê die brand het Dinsdag tussen 20:30 en 21:00 uitgebreek.

“Desnell se jonger suster, Desnay (11), was saam met haar in die hok agter. Sy het skielik na ons in die hoofhuis gehardloop en geskree die hok brand.

“Die kind was in ’n toestand, want sy het haar suster uit die brand probeer red.”

Desnay, wat nou by haar ouma in Salt Lake woon, praat sedert die voorval niks.

Rodwin Hatchies, Desnell se oom, het ook vergeefs probeer om die kind uit die brand te red.

“Die vlamme was te hoog. Die hare op my gesig het geskroei. Dit het soos ’n oond gevoel daar binne.”

Kapt. Johan Rheeder, polisiewoordvoerder, sê geen misdaad word vermoed nie en ’n geregtelike doodsondersoek gaan nou volg.

Desnell se antie Aneleen Stevens sê Desnell het haar nog Dinsdagaand gegroet voordat sy huis toe is. “Vyf minute nadat ek weg is, het die brand uitgebreek. Desnell het elke weekend by my kom kuier en ons was baie close.

“Sy was ’n grappige meisie en baie outspoken en confident. Sy was juis so opgewonde oor sy Oudtshoorn toe sou toer vir haar netbal.”

Jeanine Olifant, ook ’n antie van Desnell, bly ook in Harringtonstraat. Sy vertel: “Hulle het my kom roep om te sê daar’s ’n brand, maar toe ek daar aankom, was dit te laat. Ons vermoed ’n heater het die brand begin.”

Olifant beskryf Desnell as ’n glimlaggende kind wat ander graag uitgetart het.

“Elke dag moes haar hare geblow gewees het. Haar ma het haar goed opgevoed – sy was ’n humble kind.”

Maniere

Nicole Hatchies, nog ’n antie van Desnell, wys na die kledingstuk wat Desnell nog Dinsdag aangehad het.

“Sy was ’n lieflike kind met mooi maniere. Sy was ook baie goed op skool.”

Volgens Desnell se vriende was haar sêding: “It’s just part of life.”

’n Vriend, Mercian Williams, sê hy het die brand help blus. “Die vlamme was so hoog, selfs die telefoondrade het gebrand. Ek het haar nie om hulp hoor roep nie.”

gelowig: Jeanine Olifant hou wyle Desnell Stevens, haar susterskind, se verbrande Bybel vas.
niks oor: Desnell Stevens se antie Nicole Hatchies hou die broekie vas wat sy die dag van haar dood gedra het,.
weg: Vriende en familie van Desnell Stevens staan waar die hok Dinsdagaand afgebrand het.
saamstaan: Ferial Daniels en Hester Jordaan, buurvroue van wyle Desnell Stevens, het ook tevergeefs gehelp om die vlamme te blus.
berading: Ronnie Matthys, hoof van die Primêre Skool West End, sê Desnell Stevens se klasmaats is getraumatiseer oor haar dood.

Inwoners van Yellowwood-, Harrington-, Esterhuizen- en Niekerkstraat het almal met tuinslange en emmers water gehelp om die brand te blus.

“Die gevoel is hartverskeurend en onbeskryflik. Dis soos om my eie kind te verloor,” vertel Hester Jordaan, ’n buurvrou wat Des­nell al van geboorte af ken.

Desnell se klasmaats by die Primêre Skool West End was net so getraumatiseerd.

Ronnie Matthys, skoolhoof, sê hy het haar klasmaats vroeër huis toe gestuur. Hy wei uit: “Desnell was ’n stil, gedissiplineerde kind. Die klasmaats sal van môre af berading ontvang.

“Ons sal alles doen wat ons kan om die gesin te help.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters