Verlede maand
‘Stout’ ou is op nuwe pad
Yaseen Mohammed  ~ Theo Jeptha

VOORHEEN was hy “baie stout”.

Al wat hy nou wil doen, is om sy ma en ses maande oue seun ’n beter lewe te gee

Yaseen Mohammed (24) – alias Sasso Vlet – van Lapland in Uitenhage wil om dié rede sy rymkletsery (rap) tot die next level neem. Hy is tans werkloos.

Volgens Mohammed – die oudste van vyf kinders – het hy reeds in 2009 vir die fun rap songs – eksklusief in Afrikaans – begin skryf.

“Ek rap net in Afrikaans omdat ek my taal likes. Ek sal nooit my taal weggooi nie.”

Hy sê in 2010-2011 het hy begin ernstig raak oor sy liedjieskrywery.

Volgens Mohammed het hy skool destyds in gr. 8 verlaat omdat hy “stout” was en stokkies gedraai het.

Hy sê as hy nie begin songs skryf het nie, sou hy vandag seker al dood of in die tronk gewees het.

Volgens hom is baie van die mense met wie hy destyds bevriend was reeds dood of in die tronk.

Hy sê deur middel van sy songs leer hy mense dat “daai tipe lewe” wat hy gelei het nie die moeite werd is nie.

Volgens Mohammed rap hy ook oor die swaarkry en armoede waaronder hy en sy geliefdes daagliks gebuk gaan.

Maar die songs is nie net doom en gloom nie, sê hy. Volgens hom bring sy songs hoop en stuur ’n positiewe boodskap uit.

Die rapper sê hy het al by ’n rits events opgetree en beskou homself as die grootste rymkletser in Uitenhage.

Volgens Mohammed kan hy binne ’n dag ’n liedjie skryf – alles afhangende van hoe hy voel.

Hy is op die oomblik besig om sy eerste CD op te neem. Volgens hom bestaan sy recording-toerusting uit ’n mikrofoon en laptop.

Hy sê die recordings word sommer gedoen by ’n pel se huis. Mohammed vertel trots sy CD word op 18 April in die civic centre bekend gestel.

Die CD is getiteld Die Volgende Stap.

Hy weet egter nog nie hoeveel songs hy op dié CD gaan opneem nie.

Mohammed beoog om binnekort sy matriek te doen.

Sy raad aan ander jong mense wat in dieselfde bootjie is as wat hy destyds was: “Begin glo in jouself.

“Baie jong mense glo nie in hulleself nie en dan kies hulle die maklike uitweg en dit is om stout te wees.”

Sy enkelsnit “Lewe Gaan Aan” is op 24 Januarie beskikbaar op sy YouTube channel, Sasso Vlet.

Sy vorige songs is beskikbaar op sy Facebook-blad, Sasso Vlet.

Daar is ook links in dié verband op sy YouTube channel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters