11 dae gelede
Stemme tel is ’n hele proses
UITGEREKTE storie: Daardie merkie op die kieser se duim is maar net een van die verkiesingsprosesse.Foto ter illustrasie: SANELE JAMES/OP KOERANTE  ~ 

STEMME vir die nasionale en provinsiale verkiesings is laat gister nog getel.

Die Onafhanklike Ver­kiesings­kommissie (OVK) sê behalwe vir geïsoleerde voorvalle het alles glad verloop.

’n Woordvoerder van die OVK, Kate Bapela, sê die stemme – spesiaal en algemeen – word in die stem­lokaal getel in die teen­woordig­heid van agente van die politieke partye en waar­nemers.

Voordat die stembusse oopgemaak word, word daar eers seker gemaak dat hulle verseël is.

Gesorteer

Spesiale stembriewe word geverifieer teen lyste van gemagtigde spesiale kiesers voordat dit byge­reken word.

Ál die stembriewe word dan gesorteer volgens die party waarvoor gestem is.

Daar is ook ’n hoop vir bedorwe stemme, waaroor die waarnemende beampte die finale sê het.

Die stembriewe vir elke party word twee keer getel vir akkuraatheid.

Die uitslae word aange­teken op twee duplikaat-blaaie met ál die besonderhede van die stemlokaal en stemme daarop.

Een van dié blaaie word op die stemlokaal se deur aangebring, terwyl die ander­ na die waarnemende beampte in die plaaslike OVK-kantoor geneem word.

Daar word die uitslae op ’n stelsel gelaai. Dis ’n double capture system, weer vir akkuraatheid.

Die uitslae word bekend gemaak eers nadat onafhanklike ouditeurs dit ge­oudit het.

Hoe lank dié proses duur, hang af van faktore soos die getal stembriewe per stemlokaal, die getal partye wat deelneem en die getal stembriewe waarvan die kruisies onduidelik is.

Alle materiaal van elke stemlokaal word uiteindelik gepak en vervoer na sites waar dit aangeteken en geberg word.

Stembriewe word vir altesaam ses maande geberg, net ingeval beswaar aange­teken word oor ongerymdhede.

Die OVK ondersoek juis nou twee bewerings van double voting.

As verkiesingsbedrog gepleeg is, sal die OVK die uitslae van die geaffekteerde stemdistrikte in kwarantyn plaas en die oortreders strafregtelik aankla.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters