13 dae gelede
Stebuys is ’n vroue-killer
MOORDENAAR: Déne Stebuys gister ná sy skuldigbevinding.Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

“GOD weet die waarheid.”

So het die veroordeelde vroue-moordenaar Déne Stebuys (43) van Humansdorp gister gesê minute nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy vrou.

Regter Irma Schoeman van die Baaise hooggeregshof het Stebuys skuldig bevind aan moord, aanranding en die verontagsaming van ’n beskermingsbevel.

Hy het tot en met gister onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.

Stebuys het sy vrou, Marilyn (36), op 5 Junie 2016 met ’n klip doodgemartel.

Schoeman het gister gesê benewens ’n gebreekte skedel het Marilyn ook beserings aan haar nek en gesig gehad.

Volgens haar is Marilyn se dood veroorsaak deur blunt force trauma teen die kop, nek en gesig.

Schoeman het bevind Stebuys was ’n swak getuie wat sy getuienis verander het soos die verhoor gevorder het. Volgens haar het hy hom ook weerspreek.

Schoeman het gesê die getuienis van twee jong vroue wat die moord sien gebeur het, moet met versigtigheid hanteer word omdat hulle “identifiserings-getuies” is.

Volgens Schoeman was daar teenstrydighede in die getuienis van die twee vroue, maar dit is nie ’n refleksie van hulle geloofwaardigheid nie.

Schoeman het die teenstrydighede daaraan toegeskryf dat die twee vroue ten tyde van die moord nog redelik jonk was.

Volgens die regter is hulle boonop ure lank onderwerp aan kruisondervraging oor ’n voorval wat hulle net vir ’n paar minute waargeneem het.

Sy het gesê ’n mens verwag dat daar verskille in mense se getuienis sal wees wanneer hulle oor afstand getuig.

Schoeman het gesê Jonathan Gabani – die man wat volgens Stebuys ’n buite- egtelike verhouding met Marilyn gehad het – is deeglik gekruisondervra.

Volgens Schoeman het Gabani nie vir ’n oomblik van sy hoofgetuienis afgewyk of homself weerspreek nie.

Sy het bevind Gabani se getuienis dat Marilyn die dag van haar dood so dronk was dat sy nie behoorlik kon loop nie, strook met die getuienis van ’n mediese dokter.

Volgens die dokter was Marilyn se bloed-alkoholvlak by die nadoodse ondersoek 0,18/100 mg.

Betrap

Die dokter het getuig indien ’n persoon se alkoholvlak so hoog is, kan die persoon nie behoorlik loop nie.

Volgens Stebuys het Marilyn tussenbeide getree toe hy en Gabani met mekaar begin gestoei het kort nadat hy haar en Gabani die noodlottige dag saam betrap het.

Stebuys het gesê óf hy óf Gabani het haar toe per ongeluk ’n bloedneus gegee.

Stebuys het getuig hy het Marilyn hierna gehug en dít is hoe haar bloed op sy jacket beland het.

Volgens Gabani het Marilyn nie tussenbeide getree nie, want sy was te dronk.

Hy het getuig as daar enigsins bloed aan Marilyn was, sou hy dit gesien het.

Schoeman het bevind die bloedpatroon op Stebuys se jacket strook nie met sy verduideliking nie.

Voorvonnisverrigtinge begin vandag.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters