25 dae gelede
Stank is toe ’n lyk in vlakkie
DOOD: ’n Vrou se lyk, vermoedelik dié van ’n prostituut, is gister deur inwoners in ’n bos in Sidwell gevind.  ~ Deon Ferreira

HAAR lyk was toegevou onder ’n rooibont kombers en sy het in ’n bos op haar sy gelê.

In dié stadium is dit onduidelik hoe die vrou dood is en hoe sy in ’n vlakkie in Sidwell in die Baai beland het.

Die ontdekking is gistermiddag deur ’n vrou (46) van Harrismith-weg gemaak.

“Ons het hier af gestap en toe ruik ek iets stink. Ek het eers gedink dis ’n dooie hond of ’n kat wat weer in die bosse gedump is.

“My honde het heeltyd aangegaan en toe ek nader gaan, toe sien ek die kombers. Ek wou nie verder kyk nie en het my vriendin geroep,” sê die vrou.

Dis toe Ann Geldenhuys (61) dapper na die lyk toe gestap het.

“Ek het die vrou gesien, maar nie aan haar geraak nie. Daar was net brommers om haar en sy pong.

“Al wat ek gedink het, is dat dit ’n ma kon gewees het,” sê Geldenhuys.

Sy skrik nie vir lyke nie, aangesien sy op haar dag by ’n ondernemer gewerk het.

Hulle het dadelik die polisie gebel.

’n Polisieman op die toneel het gesê daar het bloed by die slagoffer se oor uitgekom en haar gesig was opgeswel. Maar verder het dit gelyk asof sy slaap.

Kapt. Johan Rheeder, ’n polisiewoordvoerder, sê die lyk is gister omstreeks 13:00 gevind.

Herken

“Die vrou was ongeveer 30 jaar oud en onbekend. Die Algoapark-polisie het ’n geregtelike nadoodse ondersoek geopen,” sê Rheeder.

Toe die polisie later vir Geldenhuys behoorlik na die lyk laat kyk het, het sy haar herken as ene “Queenie”, wat gereeld in die straat gestaan het.

Inwoners het opgemerk dat ene Queenie nie die laaste paar dae in die omgewing gesien is nie.

Geldenhuys sê haar panty was weggetrek toe sy die lyk van nader bestudeer het.

Ander prostitute het aan haar gesê Queenie se man het haar ’n paar dae gelede goed geslaan. Queenie het gewoonlik ’n swart minirok aangehad, met ’n pruik en ’n swart kopband.

Van die inwoners op die toneel sê dié bosse moet skoongemaak word sodat hulle kan sien wat daar gebeur.

Daar loop blykbaar gereeld mense deur die bosse en saans slaap hulle daar.

ONDERSOEK: ’n Polisie­beampte bekyk die toneel waar ’n vrou dood gevind is.
MASKER: Die polisiebeamptes skryf ’n verslag nadat hulle na ’n doodstoneel in Sidwell ontbied is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters